Design a site like this with WordPress.com
Get started

Van 1 tot baie:

Vanoggend voel my vroue-hart broos. Eintlik voel ek al heelweek broos. Vandat die suster met my bloeduitslae gebel het. Sien ek drink nou al ‘n jaar lank ‘n hoë bloeddruk pil. So begin ek toe mos weer September maand sukkel met die ou ewige jarelange sinus en hooikoors kwaal. Gaan sien toe die dokter en noem toe ook sommer dat ek agterkom dat ek sukkel om te sluk. Word toe gestuur vir ‘n gastroskopie en die week daarna ‘n bariumsluk x-straaltoets. Daar word toe bevind dat ek ‘n mantelvliesbreuk het en dat my slukderm as gevolg daarvan vernou is. Word vir 6 weke op medikasie gesit. Een pil soggens en ‘n ander een 3 x na elke ete. Ek was bly dat dit net ‘n ligte kwaal is waarvoor medikasie sal help.

Gaan sien toe 2 weke terug die huisdokter weer met sinus en kry medikasie. Vra toe dat hulle ‘n slag my bloed trek en sommer na alles kyk. Wyl ek wag vir die uitslae, gaan ek vir my opvolgbesoek na die spesialis toe, oor my mantelvlies en slukdermprobleem. Vertel hy toe vir my dat hy baie bekommerd oor my was en dat ek vir die res van my lewe soggens ‘n pilletjie moet sluk. As ek nie my slukderm teenoor my huisdokter genoem het nie, sou ek glo binne ‘n jaar kanker gekry het. So aangepak is my sluk van suur. 3de maal wat ek op kanker se stoep speel en rakelings daarvan wegkom.

So toe op pil nr 2 as chroniese medikasie gesit. Die volgende dag kry ek my bloeduitslae en hoor my cholesterol is hoog en ek moet PIL NR. 3 vir die res van my lewe drink. Wat te hel, ek is in my vyftigs, maar in ‘n dag se tyd voel dit asof ek skielik horingoud geword het. Ek voel asof AVBOB met ‘n glimlaggende gryns op sy gesig vir my staan en wink. Hoë bloeddruk en hoë cholesterol spel net hartaanval en beroerte vir my uit. Gaan ek ou bene maak? O, liewe, grote griet, nee, dit het ek nie verwag.

Wel, vandag weer met sinus by die dokter gewees. Skaars 2 weke na laaste sinus medikasie. My vernoude neusgate maak dat ek so weerbaar is vir elke liewe stof en stuifmeelkorrel wat so rondwaai. Sal neusproei ook chronies moet gebruik. By huis gekom, het ek maar ‘n lys met alle medikasies en siektes gaan neerskryf en in my beursie gesit. Gaan ek nou weer hospitaal toe, moet ek die ellelange lys deurgee.

Nee, waar is die jong ekke? Waarheen het die jong gesonde vrou heen verdwyn? Oornag is ek skielik net reg vir die ouetehuis? Dit voel asof ek in my bed wil gaan lê en my kop wil toetrek onder die duvet en net daar wil bly. Wil wegkoes vir elke kwaal wat my dalk kan tref. Nee, o, grote griet, dis dan nou net die een ding op die ander ding. Dit gaan ‘n hele ruk neem, voor my gemoed weer sonskyn vrolik voel. Vir nou voel ek nou so-so, half mismoedig en so effens bang. So half van balans af.

Al wat ek weet is dat my lewe in God se hand is. Ek kan maar net daaraan vashou.

3 responses to “Van 1 tot baie:”

  1. Een ding moet jy onthou Daisy, jy’s nie alleen nie. Daar is ‘n Hoër hand wat h
    jou vashou. Gelukkig is daar darem hulp vir verskillende toestande as mens dit so kan noem. Ek het self seker so tien jaar terug ook allerhande pille moes drink en gebruik” daar het net twee pille oorgebly vandag, bloeddrukpil en antidepressant waarmee ek nie sonder kan nie. Breuk is steeds daar, kolesterol is onder beheer deur reg te eet en te oefen(ek probeer elke dag ‘n ent te stap) alles om die liggaam te help om te kan oorleef. Belangrikste is moenie moed opgee nie. Sterkte, jy sal regkom.

    Liked by 1 person

    1. Baie, baie dankie dat jy my stuk gelees het en dat jy my ondersteun met jou mooi woorde. Ek waardeer dit baie.

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: