• Onrus in Vredefontein:

    Daar is nie vandag veel vrede in Vredefontein nie.  Nee, die Progressiewe Party is ernstig besig om die  vrede in Vredefontein te versteur en dit meer na Onrusfontein te laat lyk.  Die gebeure veroorsaak  tweespalt in die gemeenskap.  Dié wat teen hulle standpunt is word gedreig met intimidasie.   

    Die party het die munisipaleit sewe dae voor die optog daarvan in kennis gestel.  Hulle het hand en   mond belowe dat dit vreedsaam sal plaasvind.  Die charismatiese aktivis, Stryder Kortlont, het vooraf genoeg propanda gedoen en het sowat 1 000 mense vir hierdie protesaksie gemobiliseer.  Ondersteuners vir hierdie saak is ook met busse van die buurdorpe af aangery.                      

    Hulle is luid aan die opmars na die munisipale kantore toe waar hulle hul lys van griewe aan die  burgemeester wil oorhandig.  Stryder het as dinamiese hoofsweep van die Progressiewe Party die  xenofobiese vrees uitgebuit tot haat teen die Zimbabwiers en Nigeriers. Hulle voel verontreg en bedreig, want elke moontlike beskikbare werk word deur vreemdelinge beklee. Die vreemdelinge word ook bevoordeel met behuising. Dis asof die aantal vreemdelinge net al meer en meer word.        

    “Weg met die vreemdelinge wat ons kos uit ons monde neem!  Ons kry nie werk nie, hulle kry dit! Hulle moet weg! GEE EERDER VIR ONS WERK!” Hierdie is maar slegs ‘n paar van hul griewe wat die plakkate in     rooi skrif en in hoofletters uitskree en wat al singende rond geswaai word. Gemoedere loop hoog en hulle sweep mekaar al hoe meer op.  Slagspreuke soos Amandla klink tussendeur die dreunsang op wyl vuiste omhoog in die lug ingepomp word.  Kort-kort ukuleer iemand of blaas op ‘n vuvuzela. Soos hulle verby die woonhuise beweeg laat hul kakafoniese geraas die honde histeries mal aan die blaf gaan. Toi-toi al dansend met stokke en pype onder die wakende oog van die manne in blou, vorder hulle tot by die munisipale kantore.               

    By die munisipaliteit wag hul omtrent ‘n uur in die warm son vir Mnr. Nichols, die burgemeester.  So, die  kookpot van frustrasies dreig al meer om oor te kook. Hul het gekom om hulle sê te sê en hul sê wil hul sê.  Die pote se teenwoordigheid dra ook nog by om hulle gemoedere nog meer op te jaag.  ‘n Paar rammetjie uitnekmanne besluit om in die munisipale gebou in te storm om Mnr. Nichols te gaan soek, maar word summier geblok deur die polisiemanne. “Kyk hier jou platpoot, gee pad voor ons.  Wie dink jy is jy om ons te keer om hier in te gaan?  Jy doen niks om ons te beskerm nie en jy is useless.”  Kalm probeer die polisiemanne om die manne te laat terug tree. “Menere, gebruik asseblief geduld. Mnr. Nichols sal ‘n goeie rede hê waarom hy laat is.  Tree asseblief terug.”  

     Karel Dikspiere laat hom mos nie sommer van enige iemand voorsê nie en hy haat die pote met passie en hy is ‘n opstoker van formaat.  “Nee, mense gaan ons ons nou regtig laat voorsê van hierdie blou slapgatte wat net heeldag sit en rondry in die vans? Kyk hoe lyk hulle!  Dik en uitgevreet en te klein vir hulle uniforms. Kan nie eens ‘n dief inhardloop nie, so onfiks is hulle. Nou wil hulle ons kom probeer keer om hier in te gaan. Loop hulle plat ouens.”  “Ja-ja, loop hulle plat dreunsing die betogters van agteraf.  Ons soek Mnr. Nichols.”  Daar val die betogende massa weg met: “We want, we want Mr Nichols.  We demand our right to be heard.” Hulle skree al hoe harder en stamp hulle voete.  Dit lyk asof die frustrasie vulkaan enige oomblik tot uitbarsting gaan kom.    

    Stryder Kortlont probeer onsuksesvol om die mense tot bedaring te bring. “Broers en susters, raak rustiger. Ons kan nie hier inbars nie, want ons het belowe dit sal ‘n vreedsame optog wees” roep hy oor  die megafoon uit. Hy word luid uitgejou. Die mense is moeg gesukkel en hoog gefrustreerd en beslis nie lus om nou na hulle leier te luister nie.  Hulle wil tot aksie oorgaan.  Die betogers split op in klein groepies en elkeen het sy eie woordvoeder aan die woord wat dié kitaar op sy manier wil slaan.  “Kom ons wag nie langer nie.  Stryder se gat! Vreedsaam werk nie.  Ons het reeds alles gedoen om gehoor te word en al wat uitkom is slapgat Nichols.  Dié gaan seker ook net ons lys griewe in die asdrom gooi. Dis tyd vir aksie, manne”, klink uit verskeie oorde op. Luid word daar uit een keel geskree:  “Waar is Mnr. Nichols? Ons soek hom nou en nie nou-nou nie!  Ons soek hom dadelik.  Of is hy te slapgat en bang om op te tree teen die vreemdelinge?”  

    Die volgende oomblik bars oorloop emosies uit in totale chaos toe honderde mans die polisiemanne voor die munisipale ingang stormloop en wegstamp en die gebou binnebars. Massahisteries word ander aangevuur om binne sekondes totale skade aan te rig. Pandemonium breek uit onder die opgewerkte betogers. Vullisdromme word omgegooi. Voertuie word met stokke en pype toegetakel.  Omliggende besighede word binnegestorm om te plunder. Gillend histeries vertrap hulle mekaar om weg te kom toe die polisie traangas en skokgranate tussen hulle in gooi.  Rubberkoeëls vlieg oor en om hulle heen.  Sommiges hardloop hulle skoon uit hulle skoene uit soos hulle probeer wegkom. ‘n Beloofde vreedsame betoging laat ‘n dorp verdwaas in wanorde agter. Gekwets soos ‘n bok met bloeiende wonde.

  • Die uniekheid van vrouwees:

    Om vrou te wees…

    Hoe vang mens hierdie

    uitsonderlike ragfyne wese se

    ware skoonheid vas in woorde?

    Woorde skiet te kort

    …  is te min of dalk

    te veel om die uniekheid van

    vrouwees te besing.

    Geen ander wese is so

    besonders saamgestel.

    Fenomonaal is jy

    formidabele vrou

    Fyn gesny uit die Meester

    se Skepperhand soos geen

    ander aardse beeld ooit kan wees.

    Fantasties fyn bedraad

    van binne en buite

    ‘n Meesterlike wonderwerk

    afgerond tot perfeksie in

    volle glorie van kop tot toon.

    Jy verdien ‘n kroon,

    vir die onuitwisbare merk

    en voetspoor wat jy laat

    in mense se lewens asook

    op aarde.

    Sonder jou sou die aarde

    beslis nie kon bestaan nie.

    Watter eentonige vaal wêreld

    sou dit tog nie gewees het nie?

    Jou plek verdien jy oor en oor.

    Vir niemand hoef jy terug

    te staan of laag te buig.

    Jou waarde is ver bo korale.

    Jou deug staan sal nooit vergaan.

    Bewaak-bewaar jou hart en siel

    van mense wat jou wil beroof van

    dié kosbare prag aan jou geskenk.

    Jy is geskep as die pêrel

    van God se oog en troon.

    Jy het rede om te skitter en

    te pronk.

    Jy is fyn uitgesoekte porselein

    kosbaar en breekbaar,

    tog sterk soos yster.

    Moet nooit vergeet..

    Jy is na Sy beeld en wil geskape

    om ten volle te blom

    in jou menswees.

    Moet nooit vergeet,

    jy’s ‘n engel met ‘n omgee hart.

    Daar is geen sagter wese as jy…

    Jou sagte omgee en warme

    moedershart dien menigmaal

    as pleister teen die wêreld se eina’s.

    Teer, sorgsaam troos jou arms

    soos geen koesterende

    trooskombers kan.

    Koesterende vertroeteling

    teen wat ook al mag kwel.

    Jou sagte hart, oë en hande

    straal opregte omgee liefde uit.

    Handewerk uit jou sagte hande

    is oorlopens gevul met liefde,

    wat geen siel onaangeraak laat,

    Jy deurdrenk als met vreugdevolle

    liefde.

    Uniek is jy beslis,

    jy hoef dus beslis nie aan jouself

    te twyfel,

    want niemand is so sag en teer

    en sorgsaam soos ‘n vrou.

    Jy verdien ‘n daaglikse saluut!

  • Sneeuwitjie  se troudag:

    Sneeuwitjie raak met ‘n glimlag op haar gesig wakker na ‘n heerlike nagrus.  Opgewonde oor sy vandag met haar handsome prins gaan trou.  Oe, sy kan nie wag nie.  ‘n Dowwe gestamp en gefluister dring tot haar deur.  Sy lag innerlik toe sy hoor dis die sewe dwergies wat by haar kamerdeur is.  Knorrig fluister bietjie te luid: “Nee, man Sneezy, jy kan nie nou wil nies nie.  Jy gaan alles bederf! Knyp toe jou neus.”  Doc val ook in met: “Sleepy, word wakker. Jy moet nou nie vandag Sneeuwitjie se mooiste dag bederf deur op jou voete te staan en slaap nie.” 

    Die volgende oomblik tree die skamerige Bashful die kamer binne en toe hy sien dat sy nog slaap, wink hy vir die ander om in te kom.  Een na die ander kom Doc, Happy, Sneezy, Sleepy, Knorrig en Dopey ook in. Dopey hou ‘n volgelaaide skinkbord met vrugte, pap, broodjies en ‘n glas lemoensap vas.  Die ander het elkeen ‘n bos blomme in hulle hande.  Doc tel met sy vingers in die lug af, 1 2 3 en daar val almal tesaam weg met: “Môre Sneeuwitjie. Word wakker, Sneeuwitjie!  Dis jou mooiste dag.  Jou prins wag vir jou.”

    Sneeuwitjie strek lui-lui uit, gaap, kom stadig orent en maak asof sy so pas wakker geword het en roep verheugd uit: “Oe, wat ‘n verrassing! Hoe lief en oulik van julle. Môre julle oulike mensies.”  Skaam  oorhandig die dwergies die blomme en ontbyt aan haar. “Nou toe, laat Sneeuwitjie nou in vrede en kom.  Daar is werk wat wag”, roep Doc.

    Sneeuwitjie smul tog te lekker aan die heerlike ontbyt. Die dwergies het ywerig vir haar troue voorberei. Hulle het dubbeld soveel hout gekap vir die vreugdesvure wat orals brand.  Hulle het tot selfs vir hulle identiese pakke laat maak om na haar troue aan te trek. Gewoonlik trek elkeen verskillend aan. Sy is so bly dat die prins gesê het dat hulle op die kasteelgronde moet kom bly en dat hulle in sy bos vir hom kan werk. Sy kan haar lewe sonder hulle nie voorstel nie; sy het vir hulle so lief geraak.  Na ontbyt maak Sneeuwitjie met groot opgewondenheid reg vir haar troue.

    Sneeuwitjie voel opgewonde asof sy swewe toe sy aan die arm van haar pa by die kasteeltrappe opstap.  Haar hart klop vreugdevol van liefde.  Sy kan nie glo dat sy met die mooie prins gaan trou nie. Bewonderend vryf sy oor haar spierwit ragfyne kant en satyn trourok.  Sy voel en lyk so mooi, pragtig nes ‘n ware prinses.  Die ragfyne fraaie pêrels op haar rok flits vrolike skitterstrale oor alles uit. Die dwergies sal sorg dat haar twee meter lange sleep nêrens vashaak nie.

    ‘n Glimlaggende prins staan wagtend voor op sy prinses.  Onbewus van die ongenooide gaste, vermom met pruike, wagtend om hul bose planne uit te voer. Die bose ou koningin het met haar hart in ‘n glasskerf van haar vorige stukkende towerspieël geval. Haar leerling towenaarklerk het haar lewe gered deur negekruidmengsel oor die wond te smeer. Haar obsessie om die mooiste te wees het nog sterker in haar hart gebrand en sy het vir haar ‘n nuwe towerspieël gaan koop. 

    Vanoggend het sy vir die nuwe spieël gevra:  “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land?” Histeries het die spieëltjie laggend uitgebars: “Ou vrou, vergeet dit maar! Niemand kan mooier wees as ons skone Sneeuwitjie wat vandag trou nie.” Woedend, buite haarself het die bose hekskoningin die spieël neergesmyt. Sy het haar towenaarklerk geroep om die bottel twaalfkruidmengsel te bring. Vinnig het hulle met hul swart koets na die kasteel gejaag om Sneeuwitjie vir ewig uit die weg te ruim en sommer die prins ook. 

    Die hekskoningin wag gretig vir die oomblik wat sy die gifbottel onder Sneeuwitjie-hulle se neuse kan druk as sy vorentoe buk om hulle geluk te wens.  Die kragtige gif sal hulle onmiddelik dadelik dood laat neerval. Sy en haar klerk is bestand teen die gifmengsel.  Almal sal dink die prins-hulle het flou geval weens die verskriklike hittige dag. Blitsvinnig sal hulle dan tydens die konsternasie tussen die massa mense verdwyn.

    Dopey is wel stom,maar baie waaksaam. Hy het haar ou lelike swart puntskoene herken.  Hy het dadelik hulp ontbied. Net toe die bose ou heks haar plan wil uitvoer, word sy onmiddelik omsingel deur die dwergies met hulle houtkapperbyle dreigend omhoog. ‘n Wag gryp die gifbottel as bewysstuk teen hulle. Blitsvinnig word die boosdoeners stewig vasgebind. Skellend, tierend en skoppend word hulle na die pikswart donker kelder geneem. Binnekort sal hulle in die openbaar gehang word vir opstand teen die koningsgesin. Die dwergies bars juigend in ‘n vreugdesdans uit. “Jippie!” krete word kort-kort uitgeroep, so bly dat dit beslis nou die laaste sien van die nare ou vrou is.

  • Allesverloren in Bacchus voggies:

    Terwyl ek vir vroulief, Annie, wag sit en kyk ek hoe hoe die mense om my soos rooimiere rondskarrel.  Ongelowig groot rek my oë opeens toe ek sien hoe Hennie, my goeie vriend, by Lekkersing Drankwinkel instap.  Uit my binneste val ‘n diep sug.

    Met ‘n seer innerlike dink Sarel: “Agge nee, man Hennie, ons het dan al duisend keer oor jou gedrinkery, nee, gesuipery, gepraat. Jy sou kamma hulp kry.Soos wat jy suip, is dit net te erg.  Jy is seker manalleen verantwoordelik daarvoor dat Lekkersing Drankwinkel nog bestaan.  Wag, laat ek loop red wat te redde is.”

    Soos blits is ek uit my bakkie en oor die pad, die drankwinkel in. Voor die verbaasde verkoopsklerk gryp ek die bottels drank .  “Nee, my magtig!  Hennie, ons het mos al etlike kere oor jou gesuipery gepraat! Wanneer gaan jy luister?  Jou gesuipery het jou reeds jou werk gekos.  Wil jy nog jou vrou en kinders ook verloor?  Volgens Annie ,is Sarie al gatvol verby vir al jou nonsens. Ruk jou reg, man! Erken jy het ‘n probleem en kry hulp, voor dit te laat is. Moenie als….

    Abrup val Hennie my in die rede: “Ag, te hel met jou. Hou jou bek van my af!  Wie is jy om jou oor my lewe uit te laat?  Wie gee jou die reg?  Jou, ou hoogheilige kerkgatkruiper. Sarel, jy dink mos omdat jy hand op die blaas met Dominee Bennie is, jy is beter as ek.  Skoert uit my lewe uit!  Ek het jou nie nodig nie.  Ek sal soveel suip as wat ek wil.  Dis my geld, nie joune nie.”

    Witwarm beneuk, gryp Hennie die bottels uit my hand. “Luister hier, seunie, lui op hierdie drank.”  “En jy, ou Sarel, vir jou informasie, is Sarie en die kinders vandag sak en pak weg.  So,nou sal my suipery niemand meer pla nie.” Snorkend laat val Hennie:  “Gmff…, sy kan maar bly waar sy is en hoef nooit weer terug te kom nie.  Ek, Hennie Botes, het niemand nodig nie.  Hoor jy my, Sarel?”  Vererg stap Hennie toe met sy bottels stewig vasgeklem onder sy arms uit.

    Diep bedroefd en sugtend stap ek terug bakkie toe.  “Ag, nee, my man, wat’s dan nou fout dat dit lyk of die honde jou kos afgeneem het?”, vra Annie toe sy in die bakkie inklim. Met trane in my oë, vertel ek haar wat so pas met Hennie gebeur het.  Kopskuddend sê Annie: “Ai, my ou man, ek hoor jou en ek verstaan dit breek jou hart.  Hennie sal egter self tot die die besef moet kom dat hy hulp nodig het. Jy kan maar net daar vir hom wees as vriend en ook as sy wêreld finaal in skerwe spat.

    Om middernag wek my foon se gelui my.  “Hallo, Sarel, dis Kaptein Nel hier.  Jong, Hennie het jou nodig.  Hy is opgesluit vir dronkbestuur en daar is nog iets wat jy moet weet.  Hennie het ook iemand doodgery in sy besope toestand.”  Wit geskrik, met ‘n gesnak na asem, laat val ek die foon. Verskrik vlieg Annie regop, langs my in die bed.  “Wat? Wat’s fout, my man?  Wat gaan aan, my lief?” “ Dis….. dis”, stotter ek. “Hennie, my vrou. Ek kan dit nie glo nie!  Hy’s gearresteer vir dronkbestuur.  En asof dit nie erg genoeg is nie, het hy nog iemand doodgery ook! Annie, gee my klere aan, asseblief, my vrou.  Ek moet polisiestasie toe gaan, my vriend het my nodig.”  “Ek maak so, my man, maar ek gaan saam. Jy kan nie alleen in die toestand ry nie.”  “Goed, vrou, kom, laat ons weg wees.”

    Ek jaag so vinnig as kan polisiestasie toe. Daar gekom, neem Kaptein Nel, my na Hennie toe.  Geskok, in afgryse, aanskou ek hoe Hennie wanhopig, opgekrul in ‘n bondeltjie op die grond, hartstogtelik kreun en ween.  Sielverskeurend roep Hennie tussen luide snikke uit:  “My God, my God, waarom het U my verlaat? Waarom? O, waarom, Heer, het ek my lewe so opgemors? Here, hoor my en help my.  Groot asseblief!”

    Langer kan ek Hennie se sielesmart nie meer aanskou nie en roep: “Hennie, staan op! God hoor jou en God het jou nooit verlaat nie, my vriend.  God is nog altyd by jou en Hy sal jou nou hierdeur help.”  Hoopvol staar Hennie na my.  “Rerig? Sal God regtig ‘n dronklap en moordenaar soos ek help? Iemand wat Bacchus-sap moes drink om menswaardig te voel?”  “Hy sal! God sal, jy moet Hom net om verfnis vra en Hom glo, Hennie”, verseker ek Hennie. 

    Gretig, hoopvol, gryp Hennie my hande deur die tralies.  “Sarel, asseblief, help my!  Ek het God nodig.” ‘Nou, ko mons bid tot God, Hennie. Kom ons bid tot Hom om hulp en vergifnis.” Saam kniel ek en my vriend voor God om hulp.

  • Om skielik ‘n tweeling te word:

    Ek sit lekker en drink aan my cappuccino in Milly’s Café toe ek die driftige stemme van die tafel langsaan raakhoor.  “Roelf, ek kry Alicia Vanguard nie opgespoor nie. Dis asof sy nooit bestaan het nie.”  Het ek reg gehoor?  Praat hulle van dié Alicia Vanguard waarvan mamma Beth en pappa Kurt al gepraat het?  Op my navrae wie dit is, het hulle altyd gesê sy is niemand belangrik nie.

    Ek het my koffie geneem en by hulle gaan plaasneem. “Hallo, ek is Sarita Nolte van Nolte Speurders.  Ek hoor julle praat van Alicia Vanguard.  Ek het haar naam al in my ouerhuis gehoor.  Dis egter al wat ek weet. Vertel my wat julle weet. Dan kan ek probeer help.”  Verbaas het Alexander du Pont en Roelf Rossouw hulle aan my voorgestel. Alexander vertel dat hy in ‘n weeshuis grootgeword het. Die destydse weeshuismoeder, tannie Bettie Terblanche, se seun Ruan, het op ‘n sterfbedversoek van sy ma vir Alexander gekontak en hom ingelig dat Alicia sy biologiese moeder is.  Aangesien Alexander as baas van Maxcor, gereeld in die nuus is, kon Ruan hom maklik opspoor. Alexander het homself opgewerk tot een van die land se rykste manne.

    Met beide manne se besigheidskaartjies in my sak, is ek na ons gesprek terug kantoor toe. Ek het na pa Kurt se kantoor gestap. Hier het hy al talle bekende sake opgelos vir desperate mense. Na skool het ek by hom ingeval. Met my sagte vrouliker dog bulldog benadering het ek gou al moeiliker sake gekry om op te los.  In hierdie kantoor het ons al vele trane, dreigemente en drama belewe. Ek het na pappa se afsterwe in my eie kantoor aangebly en sy kantoordeur dig toegetrek. Nou gaan ek egter sy heiligdom moet betree, want die raaisel van Alicia sal ek darem bitter graag wil oplos.

    Besigheid was die laaste tyd taamlik stil en ek is so baie bly oor hierdie toevallige saak wat ek raakgeloop het. Ek werk sy kabinet en lessenaar van hoek tot kant deur en stamp per ongeluk een van sy geraamde sertifikate teen die muur af.  Glasstukke lê die hele vloer vol. Met die optel daarvan ontdek ek heelagter in die raam ‘n verseëlde koevert gemerk Hoogs vertroulik! Alicia Vanguard / Claudine / Felix.  Opgewonde tog half bangerig sak ek in pappa se stoel neer. Dié koevert in my hande. Huiwerig om dit oop te maak. Ek het egter ‘n belofte aan Alexander gemaak en moet dit nakom.  

    Binne-in is ‘n brief waarin Alicia Kurt hartlik bedank vir sy hulp en sy belofte om die geheim te bewaar. Daar is ook ‘n nota in pappa se handskrif wat meld dat ene Garth Collins van Bamboesbaai vir meer inligting gekontak kan word. Teleurgesteld vermoed ek daar is dokumente uit die koevert uitgehaal. Bewend skakel ek die vermelde telefoonnommer.  “Hallo, dis Bamboesbaai Hotel. Hoe kan ek help?” “Goeiedag, dis Sarita Nolte. Kan ek met Garth Collins praat?” “Sarita, dis Garth wat praat. Hoekom bel jy nou eers? Maak dat jy hier kom. Ons moet gesels. Wanneer kan ek jou verwag?” Verbaas en verstom antwoord ek:  “Uhm, ek kan so Donderdag daar wees. Ek bring dalk iemand saam. Is dit reg so?” “Ja, heeltemal reg. Sien dan. Veilig ry en totsiens.”

    Ek bel Alexander om te hoor of hy wil saamry Bamboesbaai toe. Hy wil en sê hy sal ry. Alexander daag toe met sy Ferrari by my op. So, ons gaan in styl die 200km afry Bamboesbaai toe. Nie een van ons was al daar nie.  Daar is ‘n familiariteit tussen ons wat ons soos ou vriende laat gesels en gou bereik ons dus ons bestemming.  Die pragtigste sandduine en die mooiste strand begroet ons. Kleurvolle huise omsoom die hoofstraat. Dit lyk so vreedsaam en rustig hier.  Kleurvolle vissersbote pronk op die strand. Ons hou stil voor die hotel en stap in.

    ‘n Man kom na ons aangestap: “Hallo, ek is Garth? Jy is Sarita?”  “Ja, sê ek en dis Alexander du Pont. Blykbaar is Alicia sy biologiese moeder.” “Hallo Alexander. Kom deur kantoor toe.”  In die kantoor gaan sit ons en Garth sit ‘n dik leêr op die tafel neer. “Alicia is Alexander, oftewel Felix, se biologiese moeder, maar sy is ook jou biologiese moeder, Sarita. Jou regte naam is Claudine. Julle is as tweeling op 20 Junie 1966 gebore.” Garth staan op en gooi vir my whisky in. “Drink, Sarita.  Ek is ook julle pa. Ek het Alicia, ‘n wêreldbekende operasangeres, bekend as Gracia-May, tydens ‘n optrede ontmoet. Malverlief het dinge te ver gegaan. Ek was onbewus van haar swangerskap. Sy’s deur haar pa gedwing om julle te laat aanneem en om alle bande met my te verbreek. Tot haar afsterwe het sy haar net toegespits op haar loopbaan.”

    “Gracia-May en Felix, dis waarom ek niks gekry het nie.”, sê Alexander. “Ja, dis te danke aan Kurt dat ek van julle weet.  Voor sy afsterwe het hy alle dokumentasie vir my gebring. Met Alexander se navraag het Kurt besef hy is Felix en dat hy nie saam met sy aanneemouers in die motorongeluk afgesterf het nie, maar in ‘n weeshuis was.  Sarita, jy was gelukkig by die liefdevolle Noltes. Ek het heeltyd sit en wik en weeg of ek julle lewens moes omkrap deur julle te kontak. Julle moeder se briewe en dagboek is alles in die leêr en julle kan dit nou rustig gaan deurlees.”

  • Bacchus – drinkpleister vir ‘n gebroke siel:

    Ek, Lennie, is diep besorgd oor my jarelange vriend, Dolf. Vir maande het hy soggens met bloedrooi oe, half besope, weens die vorige aand se hewige drinkery, by die werk opgedaag. Ek het gewoonlik vir hom ‘n beker pikswart, galbitter koffie ingejaag. Dolf se verskonings van erge hooikoors, het niemand vir lank geflous nie.

    Vanoggend het Meneer Jooste die eindpunt van sy geduld bereik en het hy Dolf summier afgedank. Of my ou maat nou tot inkeer sal kom, weet ek nie. Ek kan maar net hoop dit dryf hom nie verder die afgrond in nie. Ek en sovele ander het etlike male vir Dolf probeer oorreed om hulp vir sy drinkery te kry. Ons goed bedoelde raad het egter op dowe ore geval en soos water van ‘n eend se rug afgerol.

    Dolf, wat voel asof ‘n trein hom getrap het, slinger vroegoggend met ‘n hengse, seer kloppende kop die kombuis binne, waar Annie besig is om koffie te maak. Toe hy per ongeluk teen haar vasslinger, stamp sy hom met ‘n hengse slag weg.  Blitsvinnig vlug sy tot in die verste hoek van die kombuis, vanwaar sy bewend, nes ‘n verskrikte wildsbok , met vreesbevange oe na hom staan en kyk.

    Dolf val snakkend na asem, helder nugter geskrik op ‘n kombuisstoel neer.  Diep gewalg in homself en stom geskok, staar hy in ongeloof na Annie se vuisvoos, pimpel en pers geslane gesig.  Als te danke aan sy vieslike dronk Bacchus-vuiste. Verslae, in diepe berou, sien hy hoe bloeddruppels vanuit ‘n diep sny bo haar linkeroog syfer. Toe sy daaroor vrywe, vul haar pragtige blou oe met trane, haar gesig in pyn vertrek.

    “O, Here, wat het ek gedoen? Annie, vrou, vergewe my asseblief.  Ek’s so jammer! Ek weet nie wat my besiel het nie.  Ek sal nooit, ooit weer, nie”, pleit Dolf hartstogtelik.  Skerp antwoord Annie: “Ag Dolf hou op!  Om Vadersnaam, hou net op lieg!  Jy’t al hoeveel keer belowe dis die allerlaaste keer.  Elke slag smeek jy my om vergifnis en probeer my omkoop met blomme, geskenke en sjokolade. Dan dink jy als is vergete en vergewe en dat ek dankbaar in jou arms moet val.  Wel, ek is nou net mooi gatvol vir al jou nonsens en is nie langer bereid om jou slaansak te wees nie.  Lennie en Nella het my kom haal. Ek trek uit!  Dis oor tussen ons.”

    Vanwaar ek, Lennie, in die eetkamerdeur staan, sien ek hoe steek Annie se woorde soos dolke deur Dolf se hart. Hoe hy vooroor knak, met sy kop in sy hande en gebroke begin huil. Ek sien sy vuurwarm trane val op die vloer. Saggies stap ek nader en sit my hande op sy skouers.  “Dolf, my ou maat, ek’s so jammer. Nella het aangedring dat ek Annie kom haal.”

    Stotterend begin Dolf praat: “Lennie, wat het ek aangevang? Kyk hoe lyk Annie se gesig!  Ek is net so ‘n monster soos my pa, wat als met sy vuiste reg probeer foeter het.  Ek het hom gehaat en het gesweer dat ek nooit soos hy sal wees nie. Nou is ek presies nes hy, ‘n swakkeling en ‘n nikswerd.  Ek het my lewe opgemors met my gesuip.  Ek het my werk verloor en nou vir Annie ook. Ek kan haar nie verloor nie!”

    Kopskuddend, se ek: “Nee, Dolf jy is nie nikswerd nie en kan jou nie met jou pa vergelyk nie. Jy is ‘n goeie mens. Vertel my hoekom jy troos in drank soek?  Sodat al die seer gif kan uitkom. ”  Sidderend ineengekrimp, roep Dolf pynlike herinneringe op. “Ek’t begin met slegs een glas per aand, maar nou suip ek  al twee  bottels per nag. Als net te danke aan my intense minderwaardigheidsgevoel.”

    Ek hoor met diepe deernis van ‘n bang seuntjie wat moes toekyk hoe sy dronk pa sy mammie rondgepluk en brutaal met vuiste toegetakel het. Huilend verwytend oor hy bevrees in die besemkas weggekruip het in plaas van om sy ma te help. Diep beskaamd oor sy nagtelike bednatmakery. Hoe Dolf nooit goed genoeg in sy pa se oe was nie, maak nie saak hoe hard hy ookal probeer het om sy pa tevrede te stel nie.  Selfveragtend erken Dolf hoe ontsetlik bly hy was toe sy pa verongeluklik het.

    Emosioneel moeg na die ontboeseminge, val Dolf met sy kop op die tafel neer. Gesmoord roep hy uit: “Lennie , help my!  Neem my Ramot toe.  Bacchus het lank genoeg my lewe beheer. Dit stop nou!”

  • Die lewe snel so gou verby:

    Seisoene kom en seisoene gaan

    so al hoe snellender verby.

    Van kindsbeen tot ouetehuis

    is jy op ‘n drafstap.

    Spoedig kom more

    Gister groet jou,

    vaarwel my

    liewe

    jeug.

  • Ons vernielde geliefde land:

    ek wil hartstogtelik ten hemele gil oor die verval

    van my eens pragtige melk en heuningland                    

    bloeiend steen vir steen rot en kaal gesteel               

    en vlam-verskroeid in rommelstatus gedompel  

               

    magsbehep speel stupid-slim sirkusnarre              

    en geldhonger godlose partye ‘n titaniese        

    voetbalwedstryd met ons ekonomiese welstand             

    onmoontlik terugbetaalbare lenings wyd en syd             

    aangegaan gaan ons duur te staan kom      

    ek gil kragteloos oor pankop poetin en president

    pearly smiles se vodka en sigaarkuiers

    kommerwekkend kommunisties is SA uitverkoop 

    aan kuba en rusland in ondeurdagte dobbelspel    

    ek gil skril oor die eens brandende fakkelvlam

    meesterlik militaristies het diktators dit 

    met maskerade en marionettespel verskree tot

    bekihou-sjarrapstilte

    dis nie moeilik om te sien dat ons blindelings aan

    die neus gelei word met soete valse beloftes          

    van beter dae vir onse volk en vaderland        

  • Aphrodite:

    Griekse liefdesgodin, Dame van Siprus

    jou wulpse Venus vrugbare skoonheid

    het gode laat vrees vir oorlog toe’t Zeus

    jou as vrou aan Hefaistos aangebied.

    Kreupel onaansienlike man so bly

    hy maak mooi juweliersware vir jou,

    maar jy bly na Ares, god van oorlog, vry

    en is pal aan jou vulkaangod ontrou.

    Pandesmos, chaos het tussen Persefone

    en jou geheers oor die mooie Adonis.

    Jy sê moet nie dier jag wat geen vrees toon

    – op ‘n jagtog kastreer ‘n beer Adonis.

    Akidalia, die treurende godin laat

    anemoon groei waar hy leweloos bloed laat.

    Voetnota:

    Nog ‘n skryfopdrag waar ons ‘n mitologiese liefdesgedig moes skryf.

    Al die karakters in die verhaal het vergeefs liefgehad en se eintlike liefdes het hulle verlaat of in tragedie geëindig.

    Aphrodite (vrugbare liefdesgodin) ook genoem: Venus (na Romeinse eweknie sonder arm), Kupris (Dame van Siprus), Kuterea (na geboorteplekke Siprus & Kythira), Akidalia, Pandesmos, Kerigo.  Dogter van Zeus en Dione gebore uit die seeskuim drywend op ‘n mosselskulp bekend. Zeus en die gode was bang haar skoonheid sou ‘n oorlog veroorsaak en sy word aan Hefaistos as vrou gegee. Hefaistos se ouers het hom by twee geleenthede teen die berg Olympus afgegooi. Met die eerste slag was hy amper dood en is permanent vermink in lyf en gesig. Hy was lief vir Aphrodite, maar sy het hom bly verkul.  Adonis, is gebore uit Mirra se verhouding met haar pa Kinuras. Aphrodite het hom in ‘n boks gesit by geboorte en na Hades (onderwêreld) geneem sodat Persefone vir hom kon sorg. As baie aantreklike grootman wou Aphrodite hom by Persefone gaan haal, maar hulle het so baklei oor hom dat Zeus bepaal het dat hy vir sekere periodes by elkeen kon bly.  Adonis, ‘n groot jagter en Aphrodite het altyd saam gejaag, maar weens skuldgevoel het sy haar pligte by haar huis vir ‘n slag gaan nakom. Met die waarskuwing dat hy versigtig moet wees, maar hy is egter ‘n wildebeer gedood tydens haar afwesigheid.  Sy het anemome op sy sterfplek geplant.

  • Godswoord as pantser beskerming teen die wêreld:

    Bemoei jou met Godswoordeboek – ewige reddingsboei

    Vas ge-ink as enigste save-the-world-option

    is Gods geesvrugtigheid in woordelingsdaad vasgeskroei

    as rotsvaste beskermingsgeklede wêreldse woord-bastion.

    Deurdrenkte sonligwoorde trippeldans warme naasteliefde,

    resepteer vergunnende verdraagsaamheid aan elke aardbewoner,

    lofsing bly-loof hartsbaldadige welwillenheidsliefde,

    liefdesgeurig besprinkelde vreugdeswoorde om harte te verower.

    Diepe satansgedrewe haats-wraakblokke verdryf gou

    met sagte, teervolle lofswoorde en liefdesdade.

    Bekeer jou van ewige verdoemenisbrand en helsevuur-skrou

    deur volhartig dorstiglik vas te hou aan Gods ewige geloofsdrade.

    Diepgesetelde sielsvertroostende krag en raad

    vind jy al biddend op jou knieë met Godswoord.

    Waar jy Sy woord verkondig, val daar kosbare saad

    wat as rigtingwyser jou enigste ware Kompas is na suid en noord.

    As hemelse toegangskaart en troefkaart teen aarde skatte

    gebruik daagliks jou Christelike Bybelse woordeskat.

Create your website with WordPress.com
Get started