Om skielik ‘n tweeling te word:

Ek sit lekker en drink aan my cappuccino in Milly’s Café toe ek die driftige stemme van die tafel langsaan raakhoor.  “Roelf, ek kry Alicia Vanguard nie opgespoor nie. Dis asof sy nooit bestaan het nie.”  Het ek reg gehoor?  Praat hulle van dié Alicia Vanguard waarvan mamma Beth en pappa Kurt al gepraat het?  Op my navrae wie dit is, het hulle altyd gesê sy is niemand belangrik nie.

Ek het my koffie geneem en by hulle gaan plaasneem. “Hallo, ek is Sarita Nolte van Nolte Speurders.  Ek hoor julle praat van Alicia Vanguard.  Ek het haar naam al in my ouerhuis gehoor.  Dis egter al wat ek weet. Vertel my wat julle weet. Dan kan ek probeer help.”  Verbaas het Alexander du Pont en Roelf Rossouw hulle aan my voorgestel. Alexander vertel dat hy in ‘n weeshuis grootgeword het. Die destydse weeshuismoeder, tannie Bettie Terblanche, se seun Ruan, het op ‘n sterfbedversoek van sy ma vir Alexander gekontak en hom ingelig dat Alicia sy biologiese moeder is.  Aangesien Alexander as baas van Maxcor, gereeld in die nuus is, kon Ruan hom maklik opspoor. Alexander het homself opgewerk tot een van die land se rykste manne.

Met beide manne se besigheidskaartjies in my sak, is ek na ons gesprek terug kantoor toe. Ek het na pa Kurt se kantoor gestap. Hier het hy al talle bekende sake opgelos vir desperate mense. Na skool het ek by hom ingeval. Met my sagte vrouliker dog bulldog benadering het ek gou al moeiliker sake gekry om op te los.  In hierdie kantoor het ons al vele trane, dreigemente en drama belewe. Ek het na pappa se afsterwe in my eie kantoor aangebly en sy kantoordeur dig toegetrek. Nou gaan ek egter sy heiligdom moet betree, want die raaisel van Alicia sal ek darem bitter graag wil oplos.

Besigheid was die laaste tyd taamlik stil en ek is so baie bly oor hierdie toevallige saak wat ek raakgeloop het. Ek werk sy kabinet en lessenaar van hoek tot kant deur en stamp per ongeluk een van sy geraamde sertifikate teen die muur af.  Glasstukke lê die hele vloer vol. Met die optel daarvan ontdek ek heelagter in die raam ‘n verseëlde koevert gemerk Hoogs vertroulik! Alicia Vanguard / Claudine / Felix.  Opgewonde tog half bangerig sak ek in pappa se stoel neer. Dié koevert in my hande. Huiwerig om dit oop te maak. Ek het egter ‘n belofte aan Alexander gemaak en moet dit nakom.  

Binne-in is ‘n brief waarin Alicia Kurt hartlik bedank vir sy hulp en sy belofte om die geheim te bewaar. Daar is ook ‘n nota in pappa se handskrif wat meld dat ene Garth Collins van Bamboesbaai vir meer inligting gekontak kan word. Teleurgesteld vermoed ek daar is dokumente uit die koevert uitgehaal. Bewend skakel ek die vermelde telefoonnommer.  “Hallo, dis Bamboesbaai Hotel. Hoe kan ek help?” “Goeiedag, dis Sarita Nolte. Kan ek met Garth Collins praat?” “Sarita, dis Garth wat praat. Hoekom bel jy nou eers? Maak dat jy hier kom. Ons moet gesels. Wanneer kan ek jou verwag?” Verbaas en verstom antwoord ek:  “Uhm, ek kan so Donderdag daar wees. Ek bring dalk iemand saam. Is dit reg so?” “Ja, heeltemal reg. Sien dan. Veilig ry en totsiens.”

Ek bel Alexander om te hoor of hy wil saamry Bamboesbaai toe. Hy wil en sê hy sal ry. Alexander daag toe met sy Ferrari by my op. So, ons gaan in styl die 200km afry Bamboesbaai toe. Nie een van ons was al daar nie.  Daar is ‘n familiariteit tussen ons wat ons soos ou vriende laat gesels en gou bereik ons dus ons bestemming.  Die pragtigste sandduine en die mooiste strand begroet ons. Kleurvolle huise omsoom die hoofstraat. Dit lyk so vreedsaam en rustig hier.  Kleurvolle vissersbote pronk op die strand. Ons hou stil voor die hotel en stap in.

‘n Man kom na ons aangestap: “Hallo, ek is Garth? Jy is Sarita?”  “Ja, sê ek en dis Alexander du Pont. Blykbaar is Alicia sy biologiese moeder.” “Hallo Alexander. Kom deur kantoor toe.”  In die kantoor gaan sit ons en Garth sit ‘n dik leêr op die tafel neer. “Alicia is Alexander, oftewel Felix, se biologiese moeder, maar sy is ook jou biologiese moeder, Sarita. Jou regte naam is Claudine. Julle is as tweeling op 20 Junie 1966 gebore.” Garth staan op en gooi vir my whisky in. “Drink, Sarita.  Ek is ook julle pa. Ek het Alicia, ‘n wêreldbekende operasangeres, bekend as Gracia-May, tydens ‘n optrede ontmoet. Malverlief het dinge te ver gegaan. Ek was onbewus van haar swangerskap. Sy’s deur haar pa gedwing om julle te laat aanneem en om alle bande met my te verbreek. Tot haar afsterwe het sy haar net toegespits op haar loopbaan.”

“Gracia-May en Felix, dis waarom ek niks gekry het nie.”, sê Alexander. “Ja, dis te danke aan Kurt dat ek van julle weet.  Voor sy afsterwe het hy alle dokumentasie vir my gebring. Met Alexander se navraag het Kurt besef hy is Felix en dat hy nie saam met sy aanneemouers in die motorongeluk afgesterf het nie, maar in ‘n weeshuis was.  Sarita, jy was gelukkig by die liefdevolle Noltes. Ek het heeltyd sit en wik en weeg of ek julle lewens moes omkrap deur julle te kontak. Julle moeder se briewe en dagboek is alles in die leêr en julle kan dit nou rustig gaan deurlees.”

5 responses to “Om skielik ‘n tweeling te word:

    1. Hallo, dit was net ‘n storie opdrag oor raaiesels ens. So dis nie waar nie.

      Liked by 1 person

      1. Jy het my laat wonder. Uitstekend geskryf.

        Liked by 1 person

      2. Dankie. Nee, ek was ‘n enkelkind.

        Liked by 1 person

      3. Dis reg so. 😁Jy het net uitstekend geskryf, dis al.

        Liked by 1 person

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started