Bacchus – drinkpleister vir ‘n gebroke siel:

Ek, Lennie, is diep besorgd oor my jarelange vriend, Dolf. Vir maande het hy soggens met bloedrooi oe, half besope, weens die vorige aand se hewige drinkery, by die werk opgedaag. Ek het gewoonlik vir hom ‘n beker pikswart, galbitter koffie ingejaag. Dolf se verskonings van erge hooikoors, het niemand vir lank geflous nie.

Vanoggend het Meneer Jooste die eindpunt van sy geduld bereik en het hy Dolf summier afgedank. Of my ou maat nou tot inkeer sal kom, weet ek nie. Ek kan maar net hoop dit dryf hom nie verder die afgrond in nie. Ek en sovele ander het etlike male vir Dolf probeer oorreed om hulp vir sy drinkery te kry. Ons goed bedoelde raad het egter op dowe ore geval en soos water van ‘n eend se rug afgerol.

Dolf, wat voel asof ‘n trein hom getrap het, slinger vroegoggend met ‘n hengse, seer kloppende kop die kombuis binne, waar Annie besig is om koffie te maak. Toe hy per ongeluk teen haar vasslinger, stamp sy hom met ‘n hengse slag weg.  Blitsvinnig vlug sy tot in die verste hoek van die kombuis, vanwaar sy bewend, nes ‘n verskrikte wildsbok , met vreesbevange oe na hom staan en kyk.

Dolf val snakkend na asem, helder nugter geskrik op ‘n kombuisstoel neer.  Diep gewalg in homself en stom geskok, staar hy in ongeloof na Annie se vuisvoos, pimpel en pers geslane gesig.  Als te danke aan sy vieslike dronk Bacchus-vuiste. Verslae, in diepe berou, sien hy hoe bloeddruppels vanuit ‘n diep sny bo haar linkeroog syfer. Toe sy daaroor vrywe, vul haar pragtige blou oe met trane, haar gesig in pyn vertrek.

“O, Here, wat het ek gedoen? Annie, vrou, vergewe my asseblief.  Ek’s so jammer! Ek weet nie wat my besiel het nie.  Ek sal nooit, ooit weer, nie”, pleit Dolf hartstogtelik.  Skerp antwoord Annie: “Ag Dolf hou op!  Om Vadersnaam, hou net op lieg!  Jy’t al hoeveel keer belowe dis die allerlaaste keer.  Elke slag smeek jy my om vergifnis en probeer my omkoop met blomme, geskenke en sjokolade. Dan dink jy als is vergete en vergewe en dat ek dankbaar in jou arms moet val.  Wel, ek is nou net mooi gatvol vir al jou nonsens en is nie langer bereid om jou slaansak te wees nie.  Lennie en Nella het my kom haal. Ek trek uit!  Dis oor tussen ons.”

Vanwaar ek, Lennie, in die eetkamerdeur staan, sien ek hoe steek Annie se woorde soos dolke deur Dolf se hart. Hoe hy vooroor knak, met sy kop in sy hande en gebroke begin huil. Ek sien sy vuurwarm trane val op die vloer. Saggies stap ek nader en sit my hande op sy skouers.  “Dolf, my ou maat, ek’s so jammer. Nella het aangedring dat ek Annie kom haal.”

Stotterend begin Dolf praat: “Lennie, wat het ek aangevang? Kyk hoe lyk Annie se gesig!  Ek is net so ‘n monster soos my pa, wat als met sy vuiste reg probeer foeter het.  Ek het hom gehaat en het gesweer dat ek nooit soos hy sal wees nie. Nou is ek presies nes hy, ‘n swakkeling en ‘n nikswerd.  Ek het my lewe opgemors met my gesuip.  Ek het my werk verloor en nou vir Annie ook. Ek kan haar nie verloor nie!”

Kopskuddend, se ek: “Nee, Dolf jy is nie nikswerd nie en kan jou nie met jou pa vergelyk nie. Jy is ‘n goeie mens. Vertel my hoekom jy troos in drank soek?  Sodat al die seer gif kan uitkom. ”  Sidderend ineengekrimp, roep Dolf pynlike herinneringe op. “Ek’t begin met slegs een glas per aand, maar nou suip ek  al twee  bottels per nag. Als net te danke aan my intense minderwaardigheidsgevoel.”

Ek hoor met diepe deernis van ‘n bang seuntjie wat moes toekyk hoe sy dronk pa sy mammie rondgepluk en brutaal met vuiste toegetakel het. Huilend verwytend oor hy bevrees in die besemkas weggekruip het in plaas van om sy ma te help. Diep beskaamd oor sy nagtelike bednatmakery. Hoe Dolf nooit goed genoeg in sy pa se oe was nie, maak nie saak hoe hard hy ookal probeer het om sy pa tevrede te stel nie.  Selfveragtend erken Dolf hoe ontsetlik bly hy was toe sy pa verongeluklik het.

Emosioneel moeg na die ontboeseminge, val Dolf met sy kop op die tafel neer. Gesmoord roep hy uit: “Lennie , help my!  Neem my Ramot toe.  Bacchus het lank genoeg my lewe beheer. Dit stop nou!”

3 responses to “Bacchus – drinkpleister vir ‘n gebroke siel:

  1. Hoe baie is nie ook in dieselfde omstandighede nie. Dis ‘n bose kringloop. Vergewe, vergewe en weer vergewe en in die tussentyd word die vrou tot op die grond vewoes. Baie gevoelvol en mooi geskryf. Deernis straal steeds uit alles uit.

    Liked by 1 person

    1. Dankie vir die saamlees en mooi woorde. Ons moes ‘n storie oor so iets skryf en ek het 2 geskryf. Nr. 1 het nie heeltemal aan die vereistes voldoen nie. Ek sal later die ander een pos.

      Liked by 1 person

      1. Sal goed wees om ander een ook te lees.

        Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: