Die plakkers van Soetendal

Nadat Supersafe Removals die Poggenpoels se huisraad op Droogtedal opgelaai het, vir die eerste skof van die gróót trek na hulle meubelstore toe, het Hompie-hulle ook met hulle swaargelaaide bakkie in die pad geval Soetendal toe, na die tydelike holte vir hulle voete, ma Kietie se huis, toe. Die bakkie was nou vir jou omtrent gelaai, amper nes ‘n Indiese bus wat skoon skeeftrek van al die passasiers binne-in asook van die swaargepakte vrag bo-op die dak. Die Poggenpoel-bakkie was gelaai met kratte klere, kruideniersware, skoonmaakmiddels en ook ander onontbeerlike goed waarsonder hulle, hul nie kon voorstel hulle sou kon klaarkom nie. Tussen al die pakkerasie moes daar ook nog ‘n groot genoeg lêspasie vir die twee labradorhonde, Wagter en Ounooi, wees, sodat hulle darem gerieflik kon reis. Daar was beslis nie plek vir ‘n muis oor nadat alles ingepak was nie.

Noodsaaklike oorlewingsmiddele soos die filterkoffiemasjien moes ingepak word, want Daisy-hulle se smaakkliere like niks van plastiekkoffie nie. Hompie het sy tuintoerusting ook saamgepiekel, want hy wou homself besig hou in skoonma se tuin. Sy broer Sakkie het gereeld van Skeerfontein, so twee ure se ry van Soetendal af, deurgery met een van sy plaaswerkers om die gras te kom sny. Met die dat Hompie die tuin se versorging sou oorneem, kon Sakkie heelwat bespaar op die brandstofkostes asook op die werkersloon, wat nie meer nodig was nie. Die tuin sal ook op ‘n meer gereelder basis netjies gehou word, want Hompie wou ‘n slag die tuin ‘n behoorlike makeover gee deur byvoorbeeld die bome te snoei, ensovoorts. Hompie is baie erg gesteld op ‘n netjiese tuin, so dit sou lyk asof Hannon in die tuin ingevaar het.

Nienie, Sakkie se vrou, het altyd saamgepiekel as Sakkie Soetendal toe gery het, met haar span huiswerkers, skoonmaakmiddels en stofsuier om die huis van hoek tot kant skoon te skrop. Sy was baie bly dat Daisy haar stofsuier saamgebring het en dat Daisy voortaan die huis skoonmaaksessie sou hanteer. Ma Kietie se stofsuier het al lank terug die gees gegee en daarom moes Nienie en Daisy hulle eie stofsuiers saamkarwei het. Gelukkig is Soetendal slegs tien minute se ry van Mooifontein af, so dit is lekker naby genoeg vir Hompie en Daisy om op ‘n gereelde basis te gaan aandag gee aan Ma Kietie se huis en tuin.

Daisy het nie ‘n probleem met hierdie bykomende take gehad nie, sy het net nie oorgeloop van gretigheid om in Ma Kietie se huis te gaan plak vir ‘n ruk nie. Hompie het net sy groot beervoet neergesit en vir Daisy mooi laat verstaan dat hulle tydelik gaan nesskrop in sy ma se huis, kant en klaar en basta met enie teepratery. Daisy kon wel insien dat hulle eintlik geen ander keuse gehad het nie, want dit was lekker naby hulle eintlike tuiste wat in aanbou was en hulle kon sommer gou deurry om te kyk hoe die bouery vorder. Die verblyfkoste was ook baie goedkoper teenoor wat ‘n gastehuis sou kos. ‘n Mens moet maar mooi na jou geldjies kyk as jy afgetree is, want jy kry mos nie meer maandeliks ‘n ou tjekkie nie en ook nie meer jaarliks ‘n ou ekstra dertiende tipbedraggie met jaareinde nie. Die Kietiehuis was ook dadelik beskikbaar, want skoonmoeder was inwoned by Soetendal se ouetehuis, Huis Madeliefie.

Daar is nie skoonma-skoondogter issues tussen Daisy en Ma Kietie nie. Die feit dat hulle nou meer gereeld vir skoonma by die ouetehuis kon gaan besoek, was een van die pluspunte van hulle trek hierheen. Daisy wou net baie graag in haar eie plekkie intrek en gevestig raak en al hulle goedjies op een plek kry en nie versprei op twee plekke in die land nie. So ‘n nomadiese leefwyse het haar nie veel aangestaan nie. Sy hou van orde en nou moes sy heen en weer trek en uit tasse leef. Skoonma se huis was ten volle gemeubileerd en al haar goed was nog in haar kaste en daar was dus nie pakplek vir Daisy se paar besittingtjies wat sy wel saamgebring het nie. Elke slag as Daisy iets wou aantrek, moes sy omtrent die tas omdolwe en dit dan later weer oorpak om dit netjies te kry. Die deurmekaar tas het haar geirriteer, want haar klerekas is gewoonlik so netjies soos wat ‘n soldoedie sin sou wees, alles perfek opmekaar gepak.

Om iets nodig te kry, wat nie in skoonma se huis was nie en te weet dit was wel in die Kaapse bokse verpak, was ook nogal frusterend en het Daisy vies vir haarself gemaak oor sy nie daaraan gedink het om dit saam te bring nie. Dan het skoonma se stoof uit Noag se ark gekom, want die oond het lank geneem om warm te word en dit het ‘n hele ruk geneem voordat ‘n lekker warm dis uit die oond opgedien kon word. Meer as een mens in ‘n huis kan ook nie met net een toilet klaarkom nie, dit is nou ‘n feit soos ‘n koei. Op ons ouderdom gaan ‘n vrou mos kort-kort toilet toe, want die ou blaas werk mos desedae oortyd en as Hompie op ‘n toilet gaan sit, lees hy ‘n hele paar tydskrifte deur. Daisy wonder soms of dit nie sy manier is om tydelik van haar te ontvlug nie, maar sy gee hom glad nie onnodige takies om te verrig nie, al dink hy strakkies so. Geen mens kan solank op die toilet sit nie! Hierdie is maar net ‘n paar klein jakkalsies wat gepla het en wat anders was as waaraan die Poggenpoels deur die jare aan gewoond geraak het, wat nogal onlekker was. ‘n Mens raak mos bederf so saam met die jare en gewoond aan ‘n sekere manier van gerieflikheid.

Dan voel ‘n mens ook nog vreemd en uit jou plek uit, asof jy nie lekker rus vir jou siel kan vind in ‘n ander persoon se huis nie. Jy kan nie behoorlik een honderd persent tuisvoel nie. ‘n Mens kan mos hoe lekker op ‘n ander plek kuier, maar na ‘n paar dae smag jy mos na jou eie bed. ‘n Halfweghuis is mos darem, maar net nie jou eie huis waar jy kan maak wat jy wil, wanneer jy wil en hoe jy wil, nie. Die huis dra ook swaar aan herinneringe van heerlike en gelukkige familiekuiers saam met jou skoonouers wat mens erg nostalgies laat voel, verlangend na die verlore tye wat nooit weer teruggekry kan word nie. Dit voel asof die huis met jou praat, die mure asem nog hulle aura uit, die lug binne-in gevul met hulle teenwoordigheid, dis ma en pa se huis en sal altyd so voel, maak nie saak wie eendag permanent daar gaan bly nie.

Wagter en Ounooi het ook gesukkel om aan te pas en het ‘n hele paar keer ontsnap. Wagter was die voorbok en Ounooi volg hom mos soos ‘n stertjie, sy sal mos nog nooit as te nimmer agterbly nie. Waar Wagter gaan, gaan Ounooi. Dis altyd ‘n getjank as sy alleen agterbly as iemand met Wagter gaan stap of draf. Ma Kietie se erf is ten volle omhein en ons het ook nog ekstra versperrings aangesit, maar nog steeds het hulle bly uitkom en ons kon nie verstaan hoe dit kon gebeur nie. Totdat ons eendag vir Wagter op heterdaad betrap het, waar hy tussendeur die hekdrade aan die deurkruip was. Hulle Houdini toertjies het omtrent ‘n drama vir my en Hompie veroorsaak.

‘n Vroutjie wat so dun soos ‘n koorspennetjie is en ‘n regte sammajoor houding het, het eendag aan die deur kom klop en ons goed oor die vingers getik oor ons nie na ons honde kan kyk nie en ons toe van dieremishandeling beskuldig en ons plegtig belowe dat sy ons gaan dophou. Big Sister is gonna watch you. Toe moet jy sien hoe span Hompie daardie hek toe, so toe dat dit nes Fort Knox lyk en dat Wagter nie eers ‘n kleine muisgaatjie kon kry om deur te kruip nie. Antie Koorspennetjie kon maar inspeksie kom hou het, sy sou nie rede kry om te kla nie. Ek meen te sê sy praat deur haar neus, sy weet beslis nie waarvan sy praat nie en praat die grootste kaf deur ons so vals te beskuldig. Ons is baie lief vir ons honde en het juis gesê ons kon beslis nie sonder hulle trek nie. Ons moes juis ons mensekinders agterlaat, kon nie nog die hondekinders ook agterlaat nie.

Dan het Daisy amper van Hompie geskei, want hy en Sakkie besluit toe mos om sommer al die nodige huisreparasies en verbeteringe aan Ma Kietie se huis te laat aanbring terwyl ons dan nou daar bly. Hulle redeneer toe mos dat Hompie nou daar was om toesig oor die verwers en nutsmanne te hou, maar hulle manne vergeet toe gerieflikheidshalwe dat Hompie sommige dae heeldag langs die viswaters gaan deurbring en wie dan met die gebakte pere sou sit.

Enige een weet hoe sulke ambagsmanne kort-kort jou persoonlike aandag nodig het om tog net gou hierna en daarna te kom kyk en hoe hulle ewe skielik ontdek dat hulle nog dit en dat benodig. Om nie eens te praat van watter probleem dit toe weer met die honde geskep het nie. Na Sammajoor Koorspennetjie se besoek is die erf mos in Fort Knox verander en die woewe het net mooi soet leer aanpas by hulle gedwonge gevangeneskap en om hulle lot te aanvaar om opgehok te wees en het geleer dat verkenning van die vrye buitewêreld vir hulle verbode terrein was. Die hek is altyd styf toegehou sodat hulle glad nie kon ontsnap nie, maar nee die verwers is mos in grotte gebore en ken nie van hekke agter hulle gaaie toemaak nie. Die honde het deeglik van hierdie kanse gebruik gemaak om uit te glip en elke slag moes daar weer met ‘n groot gesukkel gespook word om hulle net weer veilig terug te kry in die erf. Sammajoor Koorspennetjie sou die slag hulle seker kom laat arresteer het as sy die honde in die strate sou gewaar het.

Simpele mansmense. Daisy was glad nie dik van die lag vir hulle nie. Sy meen hulle kon mos gewag het met die huisreparasies totdat Daisy-hulle in hulle Mooifontein huis ingetrek het, dan kon Hompie elke liewe dag na hartelus deurgery het Soetendal toe om te gaan toesig hou. Hy kon met Daisy se volle liefde en toestemming die hele dag dan op Soetendal gebly het, sy sou nie omgegee het nie en ook geen sprook daaroor gespraak het nie. Maar nee, die Kietiehuis sou mos wegloop as hulle nie dadelik daaraan begin werk het nie. Tipies mansmens, het hul nie gedink aan die ongerief wat hulle gaan veroorsaak nie. Mans dink mos altyd hulle weet van beter en neuk net voort in pure grotman hardkoppige soldaatstyl.

Hompie kon mos geweet het, hy speel op Avbob se stoep, want al hierdie jakkalsies het verdere chaos in Daisy se gemoed veroorsaak. Dit was ‘n wonderwerk dat Daisy nie in haar naamgenoot, Daisy de Melker, verander het nie. Sy het nie aan skei gedink nie, maar om manlief dalk saggies die tydelike met die ewige te laat verwissel. Of dalk sou dit nie so saggies gewees het nie. Toemaar, toemaar, Daisy sou nie regtig tot sulke drastiese uiterstes oorgaan nie, al is haar geduld en uithouvermoë tot op die uiterste beproef. Daisy kon dit nog nooit verstaan hoe mens dit oor jou hart kan kry om iemand te vermoor nie en dan ook nog agterna met jou gewete te kan saamlewe nie, dis bo haar verstandsvermoë. Daar moet iets seriously met jou kop verkeerd gaan om ‘n ander mens te vermoor of enige liggaamlike leed aan te doen.

Hompie weet nie hoe gelukkig hy kan wees dat sy ou vroutjie hom so baie liefhet dat sy hom baie maklik enige iets onder die son sal vergewe nie. Die Poggenpoel huis en lewe klink seker vir julle na ‘n sepie vol drama, maar dis nie eintlik rêrig so erg nie. Hulle lewe is maar vaal, stil en sonder veel opwinding. Daisy kleur dit taamlik in dat dit darem meer interessanter kan klink om julle lagspiere te kan prikkel.

Gelukkig het die vier maande toe wel omgegaan en kon dinge uiteindelik weer na normaal toe terugkeer. Toe die treklorrie so by hulle eige huis op Mooifontein aangery kom, het Daisy se emosies weereens veroorsaak dat haar oë begin trane lek het. Sy was tog altebly dat haar goedjies na al die paaie waarop hulle gereis het, darem veilig by haar aangekom het, na die lang skeiding daarsonder. Sy het sommer gou tjoef-tjaf soos ‘n flukse mier, die bokse deurgewerk om alles op hulle regte plekke te kon kry. Het die goed na die lang berging nou vir jou darem gestink na boks, sy het skoon haar neus vir haar eie goed opgetrek en was dit nou beplak met Supersafe Removals se plakkers. Alles was darem daar en niks was gebreek nie.

Daar staan ook geen onuitgepakte bokse in haar huis nie, so die treksage is heeltemal oor en verby. Dankie tog. Daisy het prontuit verklaar sy trek nou nie weer iewers anders na toe nie, behalwe dalk eendag, in die verre toekoms, na Huis Madeliefie op Soetendal na Huis Herfsblaar op Mooifontein toe, Of na die finale adres by die langboompies, afhangende van die Heer se plan vir haar lewe. Maar trek is sy nou vir eers klaargetrek!

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started