Daisy is MMG (Middeljarig, mollig en gesond).

Daisy is aan die brand soos wat die kreatiewe juices vloei. Ja,ja, sy weet sy kan nie haar tale meng nie, die taalpuriste sal haar stenig, maar soms klink iets net beter as jy dit soos mengelslaai meng en uitspreek. Dit het dan groter trefkrag.

Die kreatiewe sappe vloei so erg dat sy amper nie by haar huishoudelike take uitkom nie en dat hierdie ou gewone sloertakies maar aan die agterspeen suie. Daisy moes toe maar ‘n roetine uitwerk en besluit toe om soggens eers haar housefairy uniform aan te trek en dan die plig voor plesier take eerste aan te pak, alvorens sy haar pretpakkie in die laat namiddag of saans kan aantrek. Anders fire dierbare ou Hompie haar dalk.

Gelukkig is sy met ‘n gawe ou Pappabeer getroud, een van die min goeie mans wat deesdae so skaars soos hoendertande is. Dierbare ou siel, dié ou Hompie van haar. Hy weet dat sy ou dierasie wel haar takies sal verrig, want sy is so bedraad en sal beslis nie toelaat dat spinnerakke kans kry om te verskyn in hulle nessie nie. Hy gun haar die nodige ruimte om soms tyd in droomland te spandeer op meer plesierige afdwaalpaaie, weg van sulke ordinêre dinge soos vuil skottelgoed en strykgoed. So na alle spore van stof en moontlike spinnekoppe verwyder is, gekook en gebak is, ensovoorts, gooi sy haar housefairy uniformpie tot doer in die hoek en dan is dit tyd vir woorde krabbel, met verf speel of ander sielsopkikkerende stokperdjies.

Prettyd of werktyd kan enige tyd van die dag wees, want as afgetredene is jou tyd mos jou eie. Sepietyd op TV saans is Daisy se lekkerste tyd vir haar om tyd aan haar stokperdjies te spandeer en sy kyk net soms wat op die skerm aangaan as iets haar aandag trek of as haar ore iets interessants raakhoor. Dan is die kospotte ook nog aan die prut op die stoof. Hompie het al gekla dat sy nie weet wat op die TV aangaan nie, maar hy sal nie verstaan nie. Mans kan mos nie multi task nie, hulle kan dan nie eens hoor as jy met hulle praat terwyl hulle besig met iets is nie. Gmff, dan het jy kamma nog nooit vir hulle van ‘n ding vertel nie. Talle vroue sal kan saamstem dat die manne ‘n gehoorprobleem het en selektief mos net hoor wat hulle wil. Ons vrouens kan baie dinge op ‘n slag doen en van alles agterna verslag lewer.

Nou kom ons na ‘n vreeslike lang ompad eers by die kwessie wat swaar op Daisy se hart lê; die hormone en vroulike kwale wat mens tref soos jy ouer word. Dié slaat jou mos as jy jou jong hupse jeugjare verloor en die eerste tree op die piesangskil begin gee. Dis die warm gloede wat toeslaan op die onmoontlikste tye, veral op yskoue reënerige wintersdae. Daisy moes al uitvlug buitentoe om in die reën buite onder ‘n boom te gaan afkoel, soos die sweet haar afgeloop het. Op koue wintersnagte raak sy natgesweet wakker en slaap selfs nou met ekstra klere byderhand vir net vinnig droog aantrek.

Sy het darem nog nie van haar klere ontslae geraak nie. Dink net watter konsternasie dit sal veroorsaak as sy haar poedelnakend uittrek in die openbaar. Sy sal mos gearresteer word vir openbare onsedelikheid en in haar volle evasgewaad, met sterretjies op al die onnoembare plekke, maar met haar gesig oop en bloot sigbaar vir die hele wêreld, op al die koerantvoorblaaie verskyn. Sy beny wel die jonge tienerdogters wat slegs in ‘n sakdoekgrote hempie en sjoebroekie, wat skaars hulle boude bedek, rondloop. Die Himba vrouens in Namibië, wat so kaalbors en met mini rompies van bokvelle rondloop, weet seker glad nie wat warm gloede is nie.

Daisy het grootgeword in die era dat jou hals, boesem en alles anders onder lappe weggesteek moet wees en sy kon dit nog nooit regkry om met sulke skrapse kleertjies te loop nie. Sy kon net sowel in Saoedi-Arabië groot geword het, waar die vrouens die hijab en niqab dra. Daisy is darem nie regtig so eng en koekerig, dat sy werklik ‘n hijab en niqab sou dra nie, maar sy verskyn nie sommer graag kaal voor enige persoon nie. Net Hompie het daardie voorreg om haar in haar evasgewaad te sien. Sy kry dan juis so skaam vir haar spierwit ou knieknoppe en bene, wat sy aan die wêreld ten toon stel, want sy is so spierwit dat dit lyk asof sy in melk geval het.

Daisy het ook besluit dis nodeloos om maandeliks ten duurste haar gryswordende hare in alle skakerings van die reënboog te kleur. Laasjaar toe die nare ou Corona-virus ingeklok het en sy tot gedwonge huisarres gevonnis is en haar haarkapster geweier het om hare te sny en sodoende haar lisensie te verloor, het Daisy besluit om ‘n ouma haarstyl te kry. So, nou is dit grys en pas by haar tannie titel wat sy al verwerf het. Sy laat dit darem gereeld elke ses weke sny sodat sy darem nie na ‘n bosaap se suster lyk nie.

Met die genoemde dinge het Daisy al vrede gemaak en dit aanvaar as ere toekennings tot toetrede tot die gryswordende brigade. Waarmee sy nie kan vrede maak nie, is die reddingsboei wat om haar middel bygekom het en haar donderdye, veral na haar histerektomie. Daisy kan soggens haar ontbyt oorslaan of slegs ‘n piesang eet, maar sy bly dik en drillerig, om van selluliet nie eers te praat nie. Haar klere raak al hoe kleiner; slegs rekkerige rompe en broeke sit gemaklik en sy lyk pal opgeswel en soos ‘n swanger seekoei. Net jammer sy kraam nooit en verloor dus sodoende haar gewig nie. T-hemde pas styf oor haar volronde maag en dan wens sy so dat sy plastiese chirurgie kon bekostig. Oefening help nie veel nie en oor die oefenprogram sal ons later gesels.

Daisy weet nie eens presies wat sy weeg nie, sy het lank terug al haar skaal weggegooi toe die, die gees gegee het. Die arme ding was seker moeg om so met ‘n sware vrag gekasty te word en besluit toe om eerder sy springs uit te gooi, nes ‘n kind se speelgoed soms by ‘n kot uitvlieg, dat dit maar eerder die aftog geblaas het. Kapoet en moeg vertrap deur die sware massa, kon dit seker nie anders as breek nie. Daisy het wel so ‘n vae idee wat sy weeg, van toe sy laas by die dokter op die skaal moes staan. As sy kon, sou sy dit wou vermy het, dat ander oë moet sien hoeveel gewig sy daagliks saam rondkarwei. Die is mos ‘n senstiewe ou sakie vir ‘n vrou. Hompie sê sy kla verniet, hy hou dan so van haar sagte lyf, want hy wil iets hê om aan vas te hou en wil beslis nie aan ‘n koorspennetjie met uitstaan stekerige bene vat nie.

Om terug te kom na skrapse kleertjies, dra Daisy vir jare al nie meer ‘n swembroek nie. Sy het so ‘n mooi blou eenstuk in haar kas wat seker al twintig jaar oud is. Sy kon nog nooit bikini’s dra nie, haar selfvertroue was te min. As sy op die strand geloop het, het sy ook ‘n sarong bo-oor gedra en dis nie dat haar lyf onaansienlik was nie. Sy het komplimente oor haar lyf ontvang en dit het haar gevly, tipies vrou, jy wil mos hoor jy is mooi. Sy was net spierwit en vol liggaamskwessies. Dis ook ‘n groot wonder dat die eenstuk se rek nog nie geperish het nie. Die eenstuk kostuum is so ‘n mooi blou kleur, nes die kleur van die see. Daisy twyfel of sy nou nog daarin sal pas, maar kan dit ook nie eens skenk aan ‘n liefdadigheidsorganisasie nie, want sy twyfel of enige van die moderne dames van vandag dit sal dra omrede dit al verouderd in hulle oë sal wees. Tog is daar mense wat van vintage klere hou; dalk, wie weet, kan iemand nog daarmee lyf wys.

Daisy kan haar so verkyk aan die ouer dames bo sewentig wat vrolik en prettig in hulle eenstukbaaikostuums pronk en speel in die branders, sonder enige inhibisies of skaamte. Dan wens sy, sy was minder beskimmeld, want die lewe sou dan beslis meer vroliker en prettiger gewees het op die lyffront, as sy net kon laat gaan het.

Elsabe Aldrich is die verteenwoordiger en stigter van die Vrolike Vet Vroue en jy krul behoorlik van die lag as jy een van haar vertonings bywoon. Daisy voel nie na ‘n Vrolike vet vrou nie, maar het besluit dat sy eerder meer van ‘n MMG vrou is, want middeljarig, mollig en gesond klink beter. Sy probeer nog hard werk om die g van gesond in g vir gelukkig te verander. Sy kan wel nie vrede maak met haar vetlyf nie, maar sy is gelukkig gesond. Cas van Rensburg skryf in sy boek dat daar ‘n prinses in elke vrou skuil. John en Stasi Eldredge se boek “Jy is bekoorlik” meld dat ‘n vrou se skoonheid nie aan ‘n volmaakte figuur bepaal kan word nie, maar aan ‘n sielskoonheid. Dit maak ons baie mooier en bekoorlik. Die moet elke vrou se lewensdoel en strewe wees.

Daisy weet wat al die sielkundiges kwytraak en weet in haar hart dat sy oorvloedig dankbaar moet wees dat sy een honderd persent gesond is en dat al haar ledemate en sintuie werk. Sy dink etlike kere daaraan en herinner haarself daaraan, maar ai, dis moeilik as haar kleertjies so styf span oor haar maag en sy haarself kaal in die spieël aanskou. As sy so pure Saartjie Baartman (met alle respek aan Saartjie, die arme vrou het ‘n aaklige lewe gehad) lyk, wens sy dat sy net dertig jaar van haar ouderdom kon aftrek. Ai tog, die ydelheid van die vrou. Daaraan sal mens seker niks kan verander nie.

Laaste gedagte:

Oudword is beslis nie vir sissies nie! Daar het spierpyne op plekke kop uit gesteek wat Daisy nie eens van geweet het nie, bestaan nie. Ja, oudword is nie vir sissies nie en mens kan nie daarvan wegskram nie. AVBOB stuur met gretigheid hul agente na jou toe, as jy ouer word, want jy lyk vir hulle na ‘n goeie opsie vir hulle produk. Ek kyk nie na die program op TV genaamd “Met ‘n huppel in jou stap” nie, maar sien dis geborg deur AVBOB. Dis darem so scary dat hulle die program borg. Nee, man, kon hulle nie ‘n ander borg gekry het nie? Jy wil mos nie elke slag as jy daarna kyk aan jou naderende afsterwe herinner word nie, dis depressing. Kon Premium Life hulle nie maar geborg het nie? Of wat van Virgin Active? Of hulle kon Discovery Life as borg gebruik het, want jy het mos nog baie dinge om te ontdek, jy is mos beslis nog nie oor die muur nie. Al die voorgestelde borge klink mos darem stukke beter en positiewer as afklop met AVBOB.

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started