Vat jou goed en trek Ferreira

Met Hompie se aftrede word daar besluit om die stof van Droogtedal te verruil vir die groener weivelde van Mooifontein wat by die see geleë is, want dan kan Hompie mos gereeld van die huis af ontsnap om te gaan visvang. Andersins moet hy dalk gereeld kneg, loodgieter en wat ook al Daisy uitdink, vir haar speel. Nee, man, dit sal mos nou nie deeg nie, want hy wil mos nou RUS!! Hy het genoeg geja baas in sy lewe.

Hy meen dat ou Daisytjie ook mos na al die jare al mooi bekwaam is om selfs dinge reg te ruk of te laat regruk. Hy het haar mos mooi getrain om eerder ‘n loodgieter in te kry as om vir hom te vra. Daisytjie se rooi knorrige moermeter en hoogs spanbare gestresde sensorknoppe kan mos nie lank dinge soos druppende krane, ensovoorts uitstaan nie.

Almal weet dat mans nie van ‘n steen en been geklaery hou nie, so die viswaters is soms baie veiliger om by te wees. Hy is baie lief vir sy ou goggatjie en weet sy is eintlik meestal ‘n dierbare dierasie, behalwe as haar hormone haar so om ge-êllie het dat hy hom eerder skaars moet maak. So hou mens sommer die huwelikskarretjie se spore veilig en vol vrede op die pad, want teen die tyd wat hy by die huis terugkom, het sy ou blommetjie al afgekoel van skone verlange na hom oor hy so lank weg was en die huis dan so stil was.

Hy help mos nog steeds tog vir sy ou goggatjie, want hy bring mos darem soms ‘n ou vis kossetjie huis toe en dan hoef sy nie meer te wonder wat om vir hulle volgende maagvullende ete gaar te maak nie. Solank hy net die vis vir haar skoonmaak en ontskub, is die Kaap weer hollans en sy happy en vol smiles.

Nou ja, laat Daisy jou vertel dat om te trek ‘n baie emosionele en uitputtende ervaring is. Dit is mos saam met dood, egskeiding, ensovoorts, een van die dinge wat jou hele binneste lekker deurmekaar kan omdolwe soos bont wasgoed in ‘n tuimeldroeër. Daisy moes al etlike kere in haar lewe trek; na 6 verskillende huise toe vandat sy voor die kansel gestaan het. Daarvan het 3 huise darem aan Daisy en Hompie self behoort of eintlik het 2 daarvan mos aan die bank behoort, hulle kon darem goedgunstiglik daarin bly as hulle net maandeliks hulle verband pligsgetrou afbetaal het.

Jong, dan kom ‘n mens darem agter dat jy regtig ly aan die versamelvoël sindroom, want jy het soveel opgegaarde goed wat jy nie eens van geweet het nie of al van vergeet het van. Dis ‘n geskrop, gepak, weggooi, weggee of strakkies verkoop as dit nog bruikbaar is. Dan is dit nie sommer net vir weggooi, weggee of verkoop nie. Elke stuk word met ‘n ge-oe en ge-aa met herontdekte onthou herinneringe opgeroep, bewonder, bevoel, betwyfel of dit ontslae van geraak moet word en na ‘n finale gesnuif en gehuil tog maar laat gaan. As dit na vele oorweging wel laat gaan is, kom die wonder, verlange en spyt wees agterna gevoel of jy dit regtig moes laat gaan het. Of jy kry dit nou ewe skielik uit die bloute nodig.

Daisy moes juis baie sorgvuldig inpak, want sommige goed moes vir ‘n tydperk van vier maande in die vervoermaatskappy se store gestoor word, voordat dit na die finale adres vervoer toe sou word. Dan moes sy die goed waarsonder hulle vir vier maande nie sou kon klaarkom nie, soos byvoorbeeld klere, apart inpak, want hulle sou vir die tyd in haar skoonma se huis gaan plak het. Dié is ook ‘n storie vir later.

Hulle moes eers as plakkers gaan lewe het in Soetendal, totdat hulle huis op die buurdorp, Mooifontein, klaar gebou was. Gelukkig was Soetendal en Mooifontein maar net tien minute se ry vanmekaar en kon hulle gereeld ‘n ogie oor die huisbouery gaan gooi het en dan is daar ook sommer kort-kort van pure nuuskierigheid en opgewondheid na die bouery toe deurgery. Dit was per slot van sake die eerste keer wat hulle laat bou het, so hulle was soos kinders wat lucky packets gekry het.

Saam met die inpakkery was daar nog ‘n aanslag op Daisy se hart. Die kuikentjies moes toe mos uit die nes geskop word, want beide was al as klase in diens van ander en soos almal weet in vandag se dae, moet jy maar vasklou aan jou werk wat jy het. Die beskikbaarheid van werk is mos so skaars soos hoendertande dese dae. Daisy se ou kuikentjies kon dus nie saamtrek nie en moes noodgedwonge die warm veilige Poggenpoel tuiste verlaat. Groot spoke, soos die verhuising en ‘n leë nes sindroom, het Daisy in die gesig gestaar en dit was dus ‘n dubbele aanslag op haar brose gemoed, hart en deurmekaar gekarringde hormonale toestand, waarin sy op daardie stadium verkeer het.

Die kuikentjies se name is nie regtig Groot Spanner en Florrie nie. Dit was sommer ‘n wit lekkerkry leuentjie wat Daisy vir die divas vertel het om bietjie innerlike binnepret met hulle geskoktheid te hê. Spanner heet eintlik Sampie en hy timmer nie regtig moeilikheidmakers by die Pienk Panty nagklub deur hulle rof uit te smyt by die deur nie. Hy is eintlik ‘n motor verkoopsman by Weltevrede Motorhandelaars op Droogtedal. Sussiekind is ook nie regtig ‘n stripper by die Pienk Panty nagklub nie en sy streel beslis nie belustige manne met uithangtonge se oë nie. Sy heet eintlik Dienkie en is ‘n aankoper en verkoopsdame by LeSue’s Boutique op Droogtedal. Die kuikentjies kon gelukkig gou ‘n woonstel in Droogtedal kry wat hulle kon deel. Daisy se hart is dus ten volle getroos in die wete dat hulle veilig en versorg is en sal wees, sonder haar beskermde moedersvlerk en wakende oog oor hulle.

Jong en was die reël van die trekkery nou vir jou ‘n storie. Daisy moes Supersafe Removals mos toe weer bel om dag en datum te bevestig, want hulle ou nessie is verkoop en hulle moes uit teen ‘n sekere tyd anders sou hulle op straat onder koerante moes slaap. Dit was toe ook maar goed dat sy gebel het, want amper het ‘n groot ramp plaasgevind. Vertel die mannetjie toe mos vir Daisy dat haar trek wel op Droogtedal opgelaai sal word op die genoemde datum soos ooreengekom. Die meubellorrie sou dan die meubels vervoer het na hulle store in die Kaap waar dit vir vier maande gestoor sou word, voordat dit na Mooiplaas toe vervoer sou word. Mooiplaas in plaas van Mooifontein! , o grote griet, wat ‘n ramp! Kos dit toe vir Daisy om vinnig ‘n paar oproepe te maak om te sorg en verseker dat alle Supersafe Removals kantore van die Kaap tot in Transvaal weet dat dit na Mooifontein toe moes gaan.

Daisy was juis alreeds bekommerd dat daar fout met die treklorrie op die pad sou kom, want daar was toe juis berigte in die koerante dat een van Fanie’s Removals se treklorries vol meubels op die pad rot en kaal besteel is, nadat dit in ‘n ongeluk was. Ons bly mos in Suid-Afrika, waar diefstal aan die orde van die dag is en niks meer veilig is nie. Die skelms raak al hoe meer uitgeslape en vindingryker. Daisy weet dis net aardse goed, maar dis haar goedjies en van kosbare waarde vir haar. Jou goed is jou goed!

Ja, jy kan dit seker teen die versekering eis, maar om van vooraf te begin met nuwe meubels in ‘n vreemde dorp en nuwe huis, sien sy nie op haar oudag voor kans nie. Om nie eens van die onvervangbare, kosbare familie erfstukke te praat nie. Nee, asseblief tog nie! Spaar haar dit! Haar trek moes juis twee maal die gevaarlike landspaaie aangepak het; eers vanaf Droogtedal na Supersafe Removals se Kaapse stoor toe en dan weer op die eindbestemmingsroete van die Kaap af na Mooifontein toe. Sy moes dus twee keer bid dat die lorrie tog ‘n veilige reis moet aflê van beginpunt tot eindpunt. Sy was tog so bang dat haar ou meubeltjies ook dalk met dié move ‘n gone with the wind escape sou maak.

Dan sou Daisy se ou hart dit beslis nie gemaak het nie. Sy het juis vele veranderinge gehad om te verwerk en aan gewoond te raak. Sy het die lewe van ‘n werkende vrou finaal gegroet. Sy moes gewoond raak daaraan dat sy vir Hompie nou vir vier-en-twintig uur per dag gaan sien en dat hulle nou veel minder geldjies gaan hê om sommer net te kan spandeer op allerhande lekker dinge. Ai, en om van huis en haard van haar kinders geskei te word, na al die jare en dan nog so ver van hulle af te trek, het vir haar amper gevoel asof sy ‘n kontinent van hulle af heen wegtrek. Dan het die gróót trek ook nog soos ‘n berg vir haar voorgelê, waarna sy met baie swarigheid na uitgesien het. Sy was ook baie min lus vir die plakkery in skoonma se huis.

Daisy was sommer geheel en al in ‘n neerslagtige en haarself jammerkry Martie Martelgat-fase. Ek meen te sê, dit was darem te veel veranderinge in een vrou se lewe op ‘n yslike bondel saamgeknoop. Hê ‘n bietjie simpatie met haar. Sy verdien eintlik ‘n medalje dat sy sonder enige Valkenburg letsels dit oorleef het. Gelukkig het Hompie hom nie veel aan haar mompelings hieroor gesteur nie en met sy natuurlike ingestelde kalm geaardheid, haar ook rustiger gemaak, sy kon dus vertroosting vind in die feit dat sy met hom as steunpilaar aan haar sy, enige iets kan aanpak en baasraak.

Daisy kry altyd die gevoel van, “There goes my only possession. There goes my everything,” as sy ‘n treklorrie sien. Dan wil sy saam met Jack Greene en Elvis Presley sing. Jong en dan raak mens mos ook darem alte tranerig om ‘n treklorrie te sien vertrek of as dit aankom met jou meubels. Kan ‘n mens dan tog so emosioneel wees? Of kom traandruppeltjies makliker te voorskyn soos vrouens ouer word? Daisy se ogies lek tog deesdae by vele geleenthede so maklik; troues, baba’s se geboortes, stories op TV, boeke, ag sommer ook as sy mooi blommetjies sien. Hompie en hulle kroos vind dit vreeslik amusant as sy so saam met die tiewie stories huil. Eish, dis net te onverstaanbaar.

Oor die plakkery by skoonma se huis op Soetendal en die treklorrie se arrivering met haar meubels by haar klaargeboude huis op Mooifontein, sal sy met die volgende geleentheid van vertel.

4 responses to “Vat jou goed en trek Ferreira”

  1. Ja nee, so n getrekkery sit nie in eljeen se broek nie. Daisy het beslis n kleurvolle lewe. Daardie nuwe huis en dan die 24 uur per dag met haar geliefde man gaan nog baie stories oplewer.

    Liked by 1 person

    1. Dankie dat jy my storie gelees het en dat jy kommentaar gepos het.

      Like

  2. Hehe, ek onthou daardie advertensie van “There goes my only posessions”. Die treklorrie se deure het so oopgewaai met alles wat so uittuimel, met die bestuurder, so natgesweet en net in ‘n frokkie geklee, salig onbewus van die ramp. Aan die tru-spieël het so ‘n plastiek geraamtetjie rondgeswaai.
    Trek is traumaties en die wegmaak van goed is ewe erg.
    Uitstekend geskryf!

    Goeie advertensie. Daardie tyd, sal ons sê toeka se advertensies was nie so irriterend soos vandag sin wat hulle etlike kere tussen sepie tyd in jou kele afdruk nie. Ek maak gewoonlik daardie tyd kos en TV speel dan.

    Liked by 1 person

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started