Daisy het soms ‘n duiweltjie op haar skouer:

Daisy het julle vertel van die rampspoedige oggend tee drinksessie wat sy saam met Sannie Goedhart, Poppie Popgesig, Nina Mannekyn, Alicia Diamant en Beatrice Van der Plaas bygewoon het. Sy het die arme dames van Mooifontein daardie dag so sprakeloos en geskok gehad dat hulle seker nou nog ly aan totale verstomming.

Arme Sannie Goedhart is seker goed voor stok gekry oor die vroumens wat sy durf nooi het na hulle gesogte elite teegroepie toe, want Daisy het Sannie nooit weer daarna gesien nie. Sannnie Goedhart het so weggeraak, dis amper asof sy van die aardbol af verdwyn het. Daisy het ook nooit weer ‘n uitnodiging na die gesogte binnekring se spog en skinder teesessies gekry nie. Daisy vermoed dis meer samekomste van skindersessies vir hierdie groepie ladies, want soos die name van hulle mede dorpelinge daardie dag deur die lug getrek het, het dit geklink asof hulle van elke inwoner van Mooifontein iets te vertelle het.

Daisy was seker vir ‘n hele ruk daarna die toppunt van bespreking op hulle agenda, want nadat Nina Mannekyn so verstik het dat sy amper binne in Mooifontein se hospitaal beland het, het hulle Daisy met vrae gepeper. Die divas wil toe weet watter tipe beroep Daisy wel beoefen het en of Daisy getroud is en wat haar man doen. Daisy kry soms ‘n nuk om mense te skok, veral as sy sien hulle is snobs en dink hulle is beter as ander; dan wil sy hulle tot in hulle kleintoontjies skok. Ja, Daisy weet dis lelik en sondig om met ander mense die draak te steek en een van die grootste sondes om te lieg, maar sy kon nie daardie duiweltjie van haar skouer af geklap kry nie. Sy sal maar haar sondes by die priester moet gaan bely en om vergiffenis moet smeek.

Sonder om te blik of te bloos, spin Daisy toe vir hulle die volgende: “Nee, ek het die till geslaan by Benna’s Pawn Shop en my man, Hompie het die strate gevee van Droogtedal en ons was so gelukkig om nou hier onse ou karavaantjie te kon, kom opslaan in julle kampeer terrein.” Toe moes jy gesien het hoe dit lyk asof daar ‘n kat in die duiwehok los gelaat is. Die divas het nie geweet of hulle onder die tafel moes inkoes, of moes bly of gaan of wat nie. Met ‘n gerondskuiwery op die stoele, koudwaaiery met hulle kant sakdoekies, rondloerdery of enige ander belanghebbende kennis van hulle dit dalk gesien of gehoor het en ‘n gehyg na asems, het hulle gelyk asof hulle rooimiere het.

Poppie waag toe dit toe saggies manmoedig, na vele asemintrek pogings al stammelend, om te probeer uitvis of Daisy enige klein daisietjies het en wat hulle doen. Daisy vertel hulle toe van haar oulike daisietjies; naamlik Groot Spanner wat ‘n bouncer by die Pienk Panty nagklub is en dat haar dogter, Florrie ‘n stripper by dieselfde klub is. Toe moes jy sien hoe hyg, snak, verstik en hoes daardie hogere dames. Die koffieshop eienares en al haar kelnerinne moes hulle kom lawe met water, vlugsout en nat lappe. Die ambulans is amper gebel.

Dis toe dat hulle so vinnig op die vlug wou slaan as wat hulle kon, dat Nina amper manies histeries die kelnerin met haar gemanikuurde nael nader gewink het om te betaal. Met die opspring van die tafel het hulle stoele so kletterend omgeval dat die koppies op die ander tafels in hulle pierings gerinkel het. Die ander tafelgangers het grootogig die vinnige uitvaart van rokspante aanskou. Dis die dat Daisy vermoed dat die storie seker binne minute deur die hele Mooifontein uitgesaai is.

Daisy het vir ‘n hele ruk daarna nog snaakse skewe kyke gekry. Mense het agter winkelrakke ingekoes en getjie-tjie as hul haar sien. Die divas loop nog steeds so kop omhoog met stywe nekke verby Daisy asof hulle een of ander koninklike hoogheidstitel het. Hulle loop skoon skeef soos krappe, soos hulle anderkant toe kyk en hulle neuse in die lug druk. So al asof daar engele en feetjies bo hulle koppe rondvlieg in die lug. Daisy kry skoon lag in haar binneste, want haar ware vriende ken die ware feite van haar lewe en is nes sy doodgewone normale mense sonder enige aanstellerigheid. Sy het nie die prinsesse se valse vriendskap nodig nie.

John Donne se gedig getiteld ” No man is an island”, is baie waar, maar Daisy verkies mense sonder wanpersepsies en vooropgestelde idees; mense wat ander mense nie volgens klas, status of titels beoordeel of op hulle baadjies takseer nie. Daisy glo aan leef en laat leef. Die boemelaar was dalk ook eens op ‘n tyd ‘n mens wat bo-aan die beroepsleer was, maar omstandighede het hom dalk die pad laat byster raak. Die spreekwoord lui: “Al dra ‘n aap ‘n goue ring, hy bly ‘n aap” is ook waar. Sommige mense mag dalk luukse ingevoerde voertuie besit, ontwerperspakkies dra en in glaskastele bly, maar dalk is dit net ‘n skyn vir duistere geheimpies of dinge wat hulle wil wegsteek. Of om hulle seer gekweste harte en smagting na vrede weg te steek, want hulle lewe is leeg en betekenisloos en hul bly nodeloos soekend na ‘n salf om dinge beter te maak.

Die feit is dat ons almal deur God geskape is en dat God van ons verwag om ons naaste met liefde, omgee en respek te behandel. Die wêreld sal dan beslis ‘n beter plek wees.

Let wel hierdie is net ‘n tong in die kies ligte gespot met mense se eienaardighede, want almal is beslis nie so nie. So moenie my stenig nie.

Ek sluit af met ‘n Facebook post:

“Ek kan klere uit Pep uit dra en jy Markhams, tog het ons al 2 klere aan. Jy kan in ‘n dubbelverdieping huis bly en ek in ‘n pophuis, tog het ons al 2 ‘n dak oor ons kop. Jy kan elke aand by fancy restaurante gaan eet ek kan net brood en jam eet, tog het ons elkeen kos om te eet. Jy kan ‘n Ferrari ry en ek ‘n ou Mini, tog het ons elkeen ‘n ryding en kom ons elkeen by ons bestemming uit. Dis net standaard en gehalte, maar aan die einde van die dag, gaan staan ons voor dieselfde God en ons gaan almal onder die grond lê. Wees dankbaar vir dit wat jy het en vir wie jy is, die enigste persoon waarmee jy moet kompeteer is jouself deur te probeer om beter as gister te wees! Heer ek het nie veel nie, maar vir dit wat ek het sê ek voor dankie.

6 responses to “Daisy het soms ‘n duiweltjie op haar skouer:”

  1. Ek stuur jêm vir Daisy se bekkie. Waarlik heerlik om te weet daar is ander wat so voel oor ons ondermaanse bestaan. Ek hou van jou skouerduiweltjie.

    Liked by 1 person

    1. Ek smile al die pad van hartswarmte oor jou kompliment.

      Like

  2. Goeiste dis pragtig vertel. Ons ken almal daardie verhewe dames en dan ook die plat op die aarde mense. Jy het n besondere manier van vertel wat boei tot op die einde.

    Like

    1. Wow, dankie vir die stunning comment.

      Like

      1. Plesier, baie lekker gelees. Jy mag maar skryf.

        Like

  3. Lekker gelag vir daardie skokkende “feite”wat jy op die hoogere dames losgelaat het. Puik en humoristies geskryf!

    Liked by 1 person

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started