Daisy doen die verestoffer dans.

Na vele wroeginge het Daisy haar kop agtermekaar gekry en al haar varkies wat wou ontsnap op een plek op hok gekry. Alle varkies is nou spekvet en tevrede en pragtig pienk van kleur, na ‘n intense vuurwarm vergadering.

Daisy het vrede gemaak met die vraag “To be or not to be” en of sy huisvrou of beroepsvrou moet wees. Dit is seker maar die hormone of die maan wat gepla het. Ons vrouens weet mos hoe die goeters onse ganse stelsel heeltemal deurmekaar kan gooi.

Mans het dit maklik, hulle besluit op ‘n ding en dan doen hulle dit. Elke man het seker nog steeds die Dawid en Goliat prentjie in hulle koppe wat hulle moet nastreef om hulle manlikheid te bewys. Hulle overthink nie dinge nie. Hulle storm manhaftig voort, waar onse ou vroutjies mos ure ons tot in die blues in kan intob, tot in ‘n maagseer in. Haha, ai foeitog, ons is darem so fyn bedraad en besnaard. Amper soos ou arme Genis wat tog altyd so op Kooperasiestories se stoep sy lot sit en bekla het. Genis was nou nie ‘n “Groet die grotman” tipe man nie, eerder meer van ‘n “Sagmoedige Neelsie”.

Daisy het besluit sy moet nou die rustiger pas by die huis geniet en spring nou soggens flink uit die vere. “Flink uitspring uit die vere?” Ag ekskuus tog, dit hang af van die lyfpyne, want oudword is mos nie vir sissies nie. Dié is egter ‘n storie vir ‘n ander dag. Kom ons sê eerder Daisy staan wel op met beter voornemens en ‘n beter gemoed en dan gryp sy die dag “Carpe Diem” aan.

Sodra Daisy geskrop is van kop tot tone en haar magie gevul is en sy die nodige boeretroos energieskop ingekry het, gryp sy dus die huisvrou se nodige toebehore. Nee, nie Liewe Heksie se besem nie, maar die huis se besem. As Daisy op ‘n besem moet klim om weg te vlieg, sal sy sommer net daar ‘n noodlanding moet doen weens swaartekrag. Sy sal darem sukkel om die beserings aan die huisdokter te verduidelik. Die arme dokter sal vir dae daarna nog lag.

Daisy het besluit sy moet die sleurtakies van ‘n huisvrou soos byvoorbeeld die berg Ararat van strykgoed ensovoorts met vreugde aanpak asof dit haar nuwe beroep is. So Daisy sit ‘n glimlag op haar gesig, sit die musiek kliphard aan en sing en dans stof-stof deur die huis. Sy poets en vryf en spuit Mr Min dat tot die hond vlug, want netnou word hy ook gepoets. As Daisy klaar is, blink die huisie so dat dit lyk asof dit uit ‘n dekor tydskrif kom.

Deesdae is die titel van huisvrou mos so banaal en afgesaag en uit die ou argiewe van neentien toet uit. Paula van 7de Laan het altyd van” je ne sais quoi” gepraat en as jy meer finesse aan die titel van huisvrou wil gee, moet jy jouself deesdae ‘n home executive noem. Dan klink dit ten minste of jy in ‘n mansion woon en so deftig. Ag nee wat, Daisy is net ‘n Plain Jane en verkondig rondborstig dat sy ‘n huisvrou is. Solank haar huisie blink, haar honde gewas en gepoets (nie met Mr Min nie), haar man se maag vol is (pad na sy hart) en klere gestryk en in die kas is, is sy sielsgelukkig en tevrede. Daisy sal dus dansend en singend huis skoonmaak tot in lengte van dae.

8 responses to “Daisy doen die verestoffer dans.”

  1. Ag en Daisy, alles hoef ook nie te blink as jy die dag nie lus is nie. 😁 Rk is ook nog my hele lewe lank huisvrou al het ek al die jare die boerdery se kantoorwerk behartig. Ek het altyd gevorl dis makliker om te verduidelik.

    Like

    1. Dankie Toortsie, ek vat ook ruskansies of sal ek se kanse en spandeer tyd aan my stokperdjies. Ek is bly jy geniet my leeswerk. Deel dit gerus met jou vriendinne.

      Liked by 1 person

      1. Wat vir my goed gewerk het toe ek begin blog het, was om myself bekend te stel aan die ander bloggers. Soos jy gedoen het: Jy het my blog begin volg. Kyk wie lewer bv by my kommentaar, gaan lees by hulle, maar veral, lewer kommentaar. Dan sal hulle weer kom loer by jou en gou-gou is jy deel van die bloggergemeenskap. 😁

        Liked by 1 person

  2. Ek het so vier jaar gelede die marmotwiel verlaat en my huis en hondekinders my veilige hawe gemaak. Om die beskuitblik vol te hou en lekkerte vir my Rots en Bab te kook en te smook en so jou en dan te griffel op my blog, bring groot vreugde. Ek dien die verestoffer chacha saam met jou.

    Liked by 1 person

    1. Dankie om ‘n mede chacha maat te ontmoet. Ja, daar is ‘n tyd vir alles en mens moet elke fase van mens se lewe geniet en die beste van maak. Met ‘n lied in mens se hart.

      Like

  3. Ek was my hele getroude lewe huisvrou en glad nie spyt daaroor nie. Geniet elke oomblik. Mens hoef nie heeltyd skoon te maak en stryk nie. Die lekkerte is dat mens se tyd jou eie is.
    Jy skryf baie goed!

    Liked by 1 person

    1. Dankie vir jou besoekies en jou aansporing en komplimente.

      Liked by 1 person

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started