Onrus in Vredefontein:

Daar is nie vandag veel vrede in Vredefontein nie.  Nee, die Progressiewe Party is ernstig besig om die  vrede in Vredefontein te versteur en dit meer na Onrusfontein te laat lyk.  Die gebeure veroorsaak  tweespalt in die gemeenskap.  Dié wat teen hulle standpunt is word gedreig met intimidasie.   

Die party het die munisipaleit sewe dae voor die optog daarvan in kennis gestel.  Hulle het hand en   mond belowe dat dit vreedsaam sal plaasvind.  Die charismatiese aktivis, Stryder Kortlont, het vooraf genoeg propanda gedoen en het sowat 1 000 mense vir hierdie protesaksie gemobiliseer.  Ondersteuners vir hierdie saak is ook met busse van die buurdorpe af aangery.                      

Hulle is luid aan die opmars na die munisipale kantore toe waar hulle hul lys van griewe aan die  burgemeester wil oorhandig.  Stryder het as dinamiese hoofsweep van die Progressiewe Party die  xenofobiese vrees uitgebuit tot haat teen die Zimbabwiers en Nigeriers. Hulle voel verontreg en bedreig, want elke moontlike beskikbare werk word deur vreemdelinge beklee. Die vreemdelinge word ook bevoordeel met behuising. Dis asof die aantal vreemdelinge net al meer en meer word.        

“Weg met die vreemdelinge wat ons kos uit ons monde neem!  Ons kry nie werk nie, hulle kry dit! Hulle moet weg! GEE EERDER VIR ONS WERK!” Hierdie is maar slegs ‘n paar van hul griewe wat die plakkate in     rooi skrif en in hoofletters uitskree en wat al singende rond geswaai word. Gemoedere loop hoog en hulle sweep mekaar al hoe meer op.  Slagspreuke soos Amandla klink tussendeur die dreunsang op wyl vuiste omhoog in die lug ingepomp word.  Kort-kort ukuleer iemand of blaas op ‘n vuvuzela. Soos hulle verby die woonhuise beweeg laat hul kakafoniese geraas die honde histeries mal aan die blaf gaan. Toi-toi al dansend met stokke en pype onder die wakende oog van die manne in blou, vorder hulle tot by die munisipale kantore.               

By die munisipaliteit wag hul omtrent ‘n uur in die warm son vir Mnr. Nichols, die burgemeester.  So, die  kookpot van frustrasies dreig al meer om oor te kook. Hul het gekom om hulle sê te sê en hul sê wil hul sê.  Die pote se teenwoordigheid dra ook nog by om hulle gemoedere nog meer op te jaag.  ‘n Paar rammetjie uitnekmanne besluit om in die munisipale gebou in te storm om Mnr. Nichols te gaan soek, maar word summier geblok deur die polisiemanne. “Kyk hier jou platpoot, gee pad voor ons.  Wie dink jy is jy om ons te keer om hier in te gaan?  Jy doen niks om ons te beskerm nie en jy is useless.”  Kalm probeer die polisiemanne om die manne te laat terug tree. “Menere, gebruik asseblief geduld. Mnr. Nichols sal ‘n goeie rede hê waarom hy laat is.  Tree asseblief terug.”  

 Karel Dikspiere laat hom mos nie sommer van enige iemand voorsê nie en hy haat die pote met passie en hy is ‘n opstoker van formaat.  “Nee, mense gaan ons ons nou regtig laat voorsê van hierdie blou slapgatte wat net heeldag sit en rondry in die vans? Kyk hoe lyk hulle!  Dik en uitgevreet en te klein vir hulle uniforms. Kan nie eens ‘n dief inhardloop nie, so onfiks is hulle. Nou wil hulle ons kom probeer keer om hier in te gaan. Loop hulle plat ouens.”  “Ja-ja, loop hulle plat dreunsing die betogters van agteraf.  Ons soek Mnr. Nichols.”  Daar val die betogende massa weg met: “We want, we want Mr Nichols.  We demand our right to be heard.” Hulle skree al hoe harder en stamp hulle voete.  Dit lyk asof die frustrasie vulkaan enige oomblik tot uitbarsting gaan kom.    

Stryder Kortlont probeer onsuksesvol om die mense tot bedaring te bring. “Broers en susters, raak rustiger. Ons kan nie hier inbars nie, want ons het belowe dit sal ‘n vreedsame optog wees” roep hy oor  die megafoon uit. Hy word luid uitgejou. Die mense is moeg gesukkel en hoog gefrustreerd en beslis nie lus om nou na hulle leier te luister nie.  Hulle wil tot aksie oorgaan.  Die betogers split op in klein groepies en elkeen het sy eie woordvoeder aan die woord wat dié kitaar op sy manier wil slaan.  “Kom ons wag nie langer nie.  Stryder se gat! Vreedsaam werk nie.  Ons het reeds alles gedoen om gehoor te word en al wat uitkom is slapgat Nichols.  Dié gaan seker ook net ons lys griewe in die asdrom gooi. Dis tyd vir aksie, manne”, klink uit verskeie oorde op. Luid word daar uit een keel geskree:  “Waar is Mnr. Nichols? Ons soek hom nou en nie nou-nou nie!  Ons soek hom dadelik.  Of is hy te slapgat en bang om op te tree teen die vreemdelinge?”  

Die volgende oomblik bars oorloop emosies uit in totale chaos toe honderde mans die polisiemanne voor die munisipale ingang stormloop en wegstamp en die gebou binnebars. Massahisteries word ander aangevuur om binne sekondes totale skade aan te rig. Pandemonium breek uit onder die opgewerkte betogers. Vullisdromme word omgegooi. Voertuie word met stokke en pype toegetakel.  Omliggende besighede word binnegestorm om te plunder. Gillend histeries vertrap hulle mekaar om weg te kom toe die polisie traangas en skokgranate tussen hulle in gooi.  Rubberkoeëls vlieg oor en om hulle heen.  Sommiges hardloop hulle skoon uit hulle skoene uit soos hulle probeer wegkom. ‘n Beloofde vreedsame betoging laat ‘n dorp verdwaas in wanorde agter. Gekwets soos ‘n bok met bloeiende wonde.

3 responses to “Onrus in Vredefontein:

  1. Dis voorwaar n n baie goeie vertelling/beskrywing van hoe dit regtig gaan. Die hele gedoente is presies soos ek dit ervaar het met inname van Potties se munisipale kantore. Chaos en verwoesting. Jy het n baie lekker skryf trant. wel gedaan.

    Liked by 1 person

    1. Sjoe, baie dankie vir die kompliment.

      Like

      1. Jy is welkom, soos dit op Eng uitgedruk word.

        Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: