Design a site like this with WordPress.com
Get started
  • Nuwejaarswense:

    Carpe Diem! Kappit yt!

    Salsa deur 2023.

    Gryp die jaar oopmond aan

    en leef hom.

    Werk hom, dans hom, slaap hom,

    maar geniet hom.

    Soos ‘n icecream vol

    hundreds and thousands,

    toegegooi onder chocolate sous,

    moet jy die jaar met smaak geniet.

    Raak die dae Wilson toffie-taai,

    moenie komkommer nie.

    As musiek ophou speel,

    moenie moedeloos raak nie.

    Nee, pak die bul by die horings

    en eet die taaie toffieappel 2023-dag

    soos ‘n Allsorts Liquorice lekker, laag vir laag,

    nes ‘n olifant happie vir happie.

    Lag dan uitbundig diep vanuit jou maag,

    sing uit volle bors

    en tuit jou bloedrooie lippe stuitig

    as jy die bloue dag met ‘n kishou

    platgeslaan het.

    Ja, lag die dae met ‘n heldergeel

    vrolike sonskyn warm glimlag toe.

    So sal jy oor 2023 koning kraai

    en as oorwinnaar jou troefkaart speel

    teen dinge wat jou sonskyn wil steel.

    Tango die jaar, salsa hom, dans hom

    en vier 2023 ten volle.

    Leef dit met ‘n hoofletter L.

    Kappit yt, minuut vir minuut.

    Elke liewe dag van 365 dae aan jou gegee.

  • As woorde nie wil vloei nie:

    Skrywersblok bestaan beslis, so seker as wat daar duisende skrywers is wat daagliks stoei om hul woorde op ‘n skoon wit vel neer te pen.  Of hul nou aan die begin van ‘n storie moet sit en stoei om iets op papier neer te krabbel en of hul nou in die middel van die storie hul letterlik vasgeknoop het in ‘n woord-labirint sonder enige uitgangspunt. Hulle stoei, glo my, hulle stoei. Kyk maar net op vriend Google, hoeveel artikels daar is oor skrywersblok. Wilna Adriaanse en Annerle Barnard is maar net twee van baie skrywers wat hul raad hoe om dit te oorkom, met jou deel.

    Wikipedia meld dat skrywersblok al vir jare aankom. Bekende name soos F. Scott Fitzgerald, Joseph Mitchell, strokiesprentskrywer Charles M. Schulz, komponis Sergei Rachmaninoff en liedjieskrywer en sangeres Adele, word daarop vermeld. Desjare het dit selfs daartoe gelei dat digters sommer heeltemal die handdoek ingegooi het en vir altyd hulle penne neergelê het.  Dit het tot selfs tot emosionele ongelukkigheid by sommiges gelei.  In 1947 het die psigoanalis, Edmund Bergler, die volgende rare bevindings as oorsake vir skrywersblok aangevoer.  Mondelinge afkraking en agterstand, baba’s wat gebottelvoed is en ‘n onstuimige liefdeslewe het glo veroorsaak dat jy nie jou gedagtes op ‘n vel papier kon neerpen nie.

    Vele studies is daaroor gedoen en vele oorsake vir hierdie probleem, is uitgelig.  Die skrywer en neuroloog, Alice W. Flaherty, het in 2004 in haar boek “The Midnight Disease: The Drive to Write, Writer’s Block, and the Creative Brain” dit aan ‘n kreatiwiteitstekort in sekere dele van die brein toegeskryf.  Hipergrafie, die intense begeerte om te skryf kan so oorweldigend sterk wees dat dit jou kreatiewe denke negatief beÏnvloed. Die feit is egter dat verskeie oorsake jou woorde kan laat wegkwyn. Siekwees, moegheid, gebrek aan inspirasie, finansiële probleme, te veel hooi op jou vurk. As jou aandag verdeeld is, kan jy maar vergeet om ‘n pen op te neem. Dan sal woorde beslis nie stromend uit jou uitvloei, in passievolle riviersketse op haelwit verdraagsame blaaie nie. 

    Nou hoe oorwin mens die lastige probleem?  As jou woorde net nie wil vloei nie?  As die witte papier of leë rekenaarskerm jou aanstaar. Raak rustig, staan op van jou lessenaarstoel. Gaan wandel in die tuin, ruik aan blomme. Sit die musiek aan en dans jou siel los.  Gryp die snesies en binge op ‘n paar tranetrekkerflieks. Gryp jou tekkies en gaan stap in die natuur. Haal asem, in, uit, in, uit. Maak jou kop skoon en konsentreer op jou asemhaling en dwing jou gedagtes tot stilte.  As jy kalmte in jou siel gevind het, probeer terugdink aan mense of gebeure wat vir jou snaaks was en wat dalk moontlik tot ‘n storie kan lei.  Gesels met jou vriende of gaan sit in ‘n koffieshop en bekyk die mense. Dalk loop daar ‘n snaakse vrou met reënboogkleure verby jou, wat jou kreatiewe sappe prikkel.  Blaai deur ‘n tydskrif en kyk of daar nie iets uit die bladsye uitspring tot in jou woordbrein nie. Vir my werk dit as ek met ander take aangaan en dan my gedagtes laat gaan.  So ‘n kopgesprek lei dan later tot iets bruikbaars wat ek kan neerkrabbel. Ek begin dan net sinne, woorde en idees neerskryf.  Later raak dit dalk ‘n storie.  ‘n Storie wat ek heelwat kere doodkrap, oorskryf en etlike kere herlees.  Totdat ek uiteindelik na vele volle blaaie besluit dit kan dalk net werk.  Selfs die titel sal ek dalk telke male verander.  As ek voel dit klink nou na iets werkbaars, lê ek my pen neer.  Missie dan volgens my suksesvol voltooi.

  • 2023

    Ek was die laaste tyd maar min op die blog weens ‘n besige skedule.

    Ek wil net vir almal wat wel my blogs lees baie dankie sê dat julle tyd daaraan spandeer en dat julle vir my ‘n kommentaartjie los op my skrywes. Ek waardeer dit baie.

    Mag al die woorde in die aangehegte prente vir julle waar word in 2023. Dis ‘n jaar vir nuwe geleenthede, weer begin, oor begin en aangaan waar jy laasjaar gestop het. Mag al julle drome, wense waar word, mag julle behoeftes vervul word. Mag julle elke dag vreugde vind in die klein dingetjies en die lewe se vreugde. Mag die vreugde die slegte gebeurtenisse oorskadu en mag dit elke seermaakding met ‘n groot hengse vuishou platslaan en uitslaan.

    Geniet die sonskyn, die reën, die blomme, jou kleinkind se lag, die kat wat die hond jaag. Dans op die musiek van jou jongjare, dink terug aan jou en jou man se eerste soen. Sien weer daardie sterre in jou oë en kyk weer so na hom. Gryp hom om die nek, druk hom vas en soen hom soos destyds. Ek belowe jou vuurwerke sal volg.

    Bak jou geliefde koek of koop dit en eet dit smaaklik op – happie vir happie. Koop vir jou trosse blomme en sit dit op jou tafel waar jou oë elke dag daaroor kan feesvier. Leef met ‘n groot letter L en gryp elke geleentheid tot groei met volle hande aan.

    Vee jou af aan ander mense se kleinlikhede en weet dat dit net kom uit ‘n plek waar hul diep innerlike seer lê. Dat hul net kan beter voel as hulle jou kan seermaak. Wend jou na God en Sy belofte dat jy uniek is en dat Hy jou as ‘n wonderwerk geskape het. Jy het die reg om te lewe en te skitter. So suster, skitter, skitter in jou volle glorie. Laat die strale wat uit jou uitskyn ander se oë verblind.

    So, dis my wens aan jou dat jy van elke oomblik in jou lewe ‘n fees sal maak. Uit die diepte van my hart wens ek dit vir jou. Leef, geniet, lag en leef!

  • Huppelkind van konsternasie-stasie:

    Lank, lank gelede …

    was daar konsternasie op ‘n stil stasie.  Die vinke kwetter vandag nog daaroor.  Van die dag toe ‘n baba se gil die trein tot stilstand geruk het.  Dié gil het wyd en syd geëggo oor die berge en weergalm tot in die diepste klowe.  Die kerkklok het ook aan die lui gegaan.  Oraloor het diere vraend gewonder wat dan nou aangaan.  ‘n Dokter se klap op ‘n kleine bababoud, het ‘n kwaaie baba van skrik haar kwaaigeit in volle longkrag oor die dorp laat val.

    Nuuskierig het als wat kon vlieg, waggel, seil, stap of kruip, hul na die hospitaal gehaas.  Hulle wou die kleine mensie met haar magtige stem sien.  Daar het hul die masjinis, Kerrie Boon, aangetref.  Hy het sy trein net so op die spoor gelos.  In skone verwondering, met trane wat loop oor sy wange, het hy na die fraaie klein baba gestaar.  Hy het die diere nadergewink. “Kom kyk julle. Ek het nog nooit, ooit, iets so moois gesien nie.”

    Die diere het gestoei en oor en op mekaar geklim; net om almal by die venster te kon inkyk. Hulle het “ge-oe” en “ge-aa” oor die kruldopdogtertjie.  Toe die fyne dogtertjie haar goue bruin ogies oopmaak en vir hulle kyk, het hulle opgewonde in kakofoniese vreugde uitgebars.  Haar handjie na hulle toe uitgehou  – asof sy aan hulle wou vat.  Net daar het sy hulle bekoor, diep in hulle harte ingeklim vir ewig.  Daar en dan het hulle besluit om vir altyd oor haar te waak.

    Die dierbare, pragkind is gedoop as Soenie.  Soenie het huppelend tussen al haar diere-maats grootgeword.  Sy het vrolik met hulle gesels. Jy kon hulle lag ver hoor trek oor die veld.  Hulle was onafskeidbaar.

    Maar op ‘n dag het alles verander.  Die diere het verskrik wakker geword van ‘n grommende rammeling. Wat hulle huisies laat sidder het.  Hul het uitgestorm na buite en gesien dis hul eens stille rivier wat nou so skud en skommel nes ‘n groot rowwe ongekrapte see.  Oupa Uil het hulle babbelse gebrabbel met ‘n hoo-hoo tot orde geroep. As koning van die voëls, het hy vir Koelwater, die rivier, gevra, wat dan fout is.  “Oupa Uil, dis Soenie se trane wat in my val, wat my waterhart so hartseer maak.  Daar is groot fout.  Julle moet haar help.” 

    “Nou waar is sy?”, vra Oupa met skrik in sy uilstem.  “Hier is sy onder die boom!”, skree Elkie Eekhoring.  Al die diere storm na Soenie toe. Hul wil so na as moontlik aan haar kom en gaan sit op haar skouer, kop en skoot. Die res sit styf teen haar aan.  “Wat’s fout, Soenie?”, wil almal weet.

    “D…d….d…dis my pappa”, snik sy.  “Hy het begin drink en hy slaan my mamma. Hy gooi die meubels rond en het gesê hy gaan ons s…s…s..skiet.”  “Wat!”, roep al die diere geskok uit.  “Nee, nee, ons kan dit nie toelaat nie.  Soenie, ons sal ‘n plan maak. Moenie komkommer nie.” Met hul vlerke en pote knus om Soenie gevou, het hulle ernstig gekoukus oor wat om te doen.

    Konsensus is bereik en hulle is na Kerrie Boon toe.  Kerrie se vrou, Ranonkel, was ‘n maatskaplike werkster. Sy sou weet wat om te doen.  Ranonkel het hulle getroos en gesê sy sou dit uitsorteer.  Ranonkel is toe na Soenie-hulle toe.  Daar het Soenie en haar ma, Loeloe, se vertellings van Rooiduiwel se wrede wandade teenoor hulle, haar hart gebreek.  Ranonkel moes blitsvinnig ‘n plan maak om hulle van hom te red.

    ‘n Vergadering met Kaptein Knorkêp, Kerrie en al die diere is belê.  Daar het hulle beplan dat almal die aand buite Soenie-hulle se huis sal skuil.  Dit was betaaldag en Rooiduiwel sou soos gewoonlik weer met bottels drank by die huis aankom.   Soos altyd sou hy dan na ‘n paar drankies tot uitbarsting kom en sou sy arme gesin dit weer ontgeld.  Dan sou hulle almal inglip en hom vaskeer. Kaptein Knorkêp sou hom dan arresteer. So gesê, so gedoen.  Rooiduiwel is op heterdaad betrap en gearresteer. Met Kerrie Boon se trein, is hy weggeneem na ‘n tronk baie ver daarvandaan.  Hy sou vir ewig sit.

    Soenie kon toe weer soos van ouds, veilig en gelukkig saam met haar dieremaats speel.  Sy het egter groot geword en na ‘n ander dorp getrek.  Haar dieremaats het haar egter nooit vergeet nie.  Soenie het hul ook nie vergeet nie.  Sy dink baie terug aan daardie gelukkige tye wat sy saam met hulle beleef het.  Aan hoe vry sy toe gevoel het. Sy dink aan hoe belangrik ware vriende is. Sy is ook bly dat reg en geregtigheid altyd seëvier. Seëvier bo die bose dade van ander. Daarom leef sy ook vandag so dat sy geen ander mens leed aandoen nie.

    Glimlaggend kyk Soenie op na …

  • ‘n Vonkelende lemonade-borrelende lewe:

    Sonnie kan nie wag dat Armans wakker word nie.  Sy brand om met hom te koukus oor hul klas se re-unie van die pas afgelope Saterdag. Sy maak koffie met ‘n groot geraas.  Fronsend en brom-brom kom Armans in die kombuis ingestap.  “Vir wat raas jy so vandag, Sonnie?  Dis darem Sondag. Kan ‘n man dan nie ‘n bietjie later slaap nie?”  “Hou op brom, Armans. Ek brand om met jou te praat. Kom ons gaan sit op die stoep.”  Hulle stap uit na hul gesellige stoep, waar hulle al vele lekker tye, deurgebring het.

     “Nou toe, Sonnie, laat waai maar met jou woordborrels.”  Vir Sonnie hoef jy nie twee maal uit te nooi tot lippeklap nie.  “Het jy Poenie se brulpadda gesig gesien? So ‘n groot vet, opgeblaasde ballonvetbal op so ‘n ou dun stokkiesrietlyf.  Dis seker van al die jare se bondeltjie-van-ontevredenheid-houding waarmee hy van kleins af gelewe het.  Mos oor als heeldag steen en been loop en kla. Van kwaai onnies, te veel skoolwerk en sy suinige ouers wat hom te min sakgeld gee en te veel huistake om te verrig.  Onthou jy Armans?”

    “Ja, nee, Sonnie, hy het gister ook heeltyd net gekla. Ek het later sommer gevlug, voor hy my ook tot binne-in ‘n doodse swarte put van morbiditeit ingepraat het.  Sy arme vrou was later al een oor by hom.  Seker dié dat sy so suurbek met kloofkranse op haar voorkop staan en frons het.  Die arme vrou!  Vir haar is die lewe seker maar bitter swaar.”  “Armans, sy is glo vrou nommer vier.  Lyk my, hy is maar swaar op die vrouens.  Ek sal beslis nie met hom getroud wil wees nie.  Ek sal sommer gou die berge in vlug.  Ja, nee, wat my liewe man. Ek het reg getrou. Ek is ook so bly my naam is Sonja.  Ek is ‘n sonskynmens en beslis nie ‘n Martie Martelgat mens nie.  Ek laat nie toe dat die lewensklappe my platslaan nie.  Ek glo aan staan-op-uit-die-put en oorbegin. Oorbegin, met ‘n lag wat die kranse laat eggo. Om Sannie Snikgat te wees, is nie my styl nie.  Ek is so dankbaar dat jy ook so ‘n positiewe kom-ons-probeer-weer en dit-sal-verbygaan-mens is, my man.  Saam met jou sien ek kans vir elke negatiewe spoedwal wat ons tydelik van balans wil afgooi.”

    ‘Ja, Sonnie, as jy wil aanhou kla en huil, is jy later in ‘n Kimberley-grote gat van verdriet. Soos wat jy verdrink in jou smart van gestorte trane.”  “Armans, dis nes jy daar sê. In snik-en-snesie-stadiums huil mense soms seetrane. As hul aanhou huil, loop daar later ‘n hele seestroom van gestorte trane.  Hul siel sal beslis verdrink in hul swarte hel van wanhoop.  Dan voel dit vir hul asof hul in ‘n slikdam, wat hul wil verswelg, beland het.  Nee, man, huil klaar en kom daaroor.  Aan alles met ‘n te, soos te veel huil, is daar gevaar aan.  As die lewe vir jou suurlemoene gee, moet jy lemonade daarvan maak.”  Armans lek sy lippe af: “Oe, hoe lus kry ek nou vir ‘n glas yskoue vars suurlemoenstroop. Nes my ma dit gemaak het.”

    “Sonnie, ons Petoorse kan nie kla nie. Dan sal ons met die witbrood onder die arm, kla.  My vrou, die droogte het ons nou wel geknou en ons finansieël op ons knieë  gedwing.  Ons het als verloor en moes ons plaas verkoop. Moes trek na ‘n veel kleiner huis, maar het darem nog vir mekaar. En dis al wat tel.”  “Ja, my lief, ons het ‘n dak oor ons kop, genoeg om te eet, klere aan ons lyf en is gesond.  Dan was Joop ook so gaaf om jou as plaasbestuurder aan te stel. So kan jy darem nog jou liefde vir die boerdery uitleef. “Ja, God is goed vir ons lief, my lief.  Hy voorsien oorvloedig in al ons behoeftes. Wat het ons meer nodig as dit? Aardse besittings kan ons tog nie met ons saamneem graf toe nie.  In geloof kan mens als oorkom.”


    Samestemmend be-aam Sonnie Armans se woorde met ‘n kopknik. Sonnie staan op om hulle vuil bekers te gaan was. Voor sy wegstap, leun sy oor en soen Armans op die mond. “Armans, ek is trots op jou my man, op jou sterk wilskrag en jou vasberadenheid waarmee jy teenspoed aanpak en oorwin.”   Tevrede rek Armans hom uit, sit sy hande agter sy kop en leun agteroor in sy stoel. Hy sug behaaglik van tevredenheid oor alles vir hom en Sonnie so goed uitgedraai het.  Hy het nie verlede jaar die tyd gedink dat hulle ooit weer op hulle voete sou kom nie.  Met ‘n ligte gemoed juig hy oor die goeie lewe wat hy en Sonnie belewe.

  • ‘n Pendoring-ode aan ‘n groot woordkoning:

    predikantseun tot slampamper-koning, ‘n ware Cederberg doring

    Christian Frederik Louis Leipoldt – jy’t jou sê as joernalis gesê

    jou mooie Hantamhart en siel in kos-en-reisboeke neergepen

    as erfporsie vir ons gelos, jou mooie Slampamper-liedjies

    dis woorde – so mooi geskets – op sielsmusiek-akkoorde

    as kenner van lettere en medisyne was jy ‘n grootse wenner

    met pen en skalpel het jou hand meesterlik fyn gekerf

    slampamper-diep aan ‘n plek, binne-in Afrikanerharte

    jou viooltjies in die voorhuis en voortuin kleur

    Oktober met die mooiste maand-kroon

    daarop sieldans ek elke slag ‘n slampamper-riel tot jou eer

    Leipoldt, woordkoning van formaat, aan jou my verlang-pendoring

  • Hitler – wrede, sadistiese volksmoordenaar:

    ‘n Buite-egtelike kind se seun

    speel Duitse diktator  – nie daar geboor’

    Hy sou later puur – soos ‘n  hondsdol reun

    aandring om Heil, mein Führer te bly hoor.

    Van christenskap wou hy niks hoor of hê.

    Sangles(se) geneem, gesing in die koor,

    toe’t sy pa nee vir kunsstudies gesê.

    Hy baklei met pa en skool – ook teen God.

    Teen Christen en Jood sou hy ‘n klag lê.

    Hy’t afgedwing sy Mein Kampf as gebod.

    Hy wou oor nasies – elkeen – magsmal heers.

    Sy plan … Lebensraum… speel hy… oor hul god.

    Sy haat vir Jode laat hom teenstand vrees,

    hy wou daarom hul nasie graag uitwis.

    Veel’ wees “kinders” agter gelaat – die bees!

    Gesterf het mens (e), miljoen’ in gas-mis

    Sy hongerplan maak maer – mens, vleis verloor

    massagrafte was daar, maar nie ‘n kis.

    Verloor die oorlog en trou Eva, sy lief,

    hul pleeg saam selfmoord voor dié Soviet grief’.

    ‘n Buite-egtelike kind se seun

    speel Duitse diktator – nie daar geboor’.

    Lauranelle – gedig.

  • Geloftedag:

    16 Desember 1838 – Geloftedag met duur bloed gekoop

    Afgebid, gesmeek van u Heer – belowe dat nageslagte sal eer

    Politieke kaders het die belofte op die ashoop weggegooi.

    Sondagviering op hierdie dag lankal nie meer gedenk nie, my Heer

  • Om te wen is nie al wat tel nie:

    As jy nie die wenplek behaal nie, is

    jy nie ‘n verloorder nie.

    Jy hoef nie op die wenpodium te gaan

    staan om as ‘n wenner geklassifiseer

    te word nie, want om te wen is nie

    altyd al wat tel nie.

    Want wat wen jy nou eintlik?

    Aansien in ander se oë

    en die wete dat jy volgens hulle

    goed genoeg is.

    Is dit regtig dié maatstaf waaraan

    jy jou wil meet?

    Is dit al wat jou laat goed voel?

    Jou siel laat juig en jou laat voel

    jy het nou iets bereik?

    Is dit waavolgens jy wil leef?

    Sal dit jou lewe voller en ryker maak?

    Nee, o, nee, mik eerder daarna om ‘n

    wenner in God se oë te wees.

    Roem eerder daarop om as

    oorwinnaar eendag by Hom

    daarbo in die hemel te kan gaan sit.

    Strewe na ‘n wenlewe saam met Hom,

    gelewe volgens Sy woord, want

    dit sal veel meer waarde vir jou inhou

    en sal verseker die gat in jou leë hart vul.

    Met ware geluk sal jy dan ‘n wenner

    van die lewe wees en sal ‘n

    wenplek in ander se oë vir jou

    onbelangrik wees.

    Sal ander se wen uitsprake oor jou

    nie meer jou kom en gaan bepaal nie.

    Want dis tog net tydelike geluk wat gou

    weer sal taan.

    God se woord sal altyd en ewig van jou

    ‘n wenner maak.

    Om op aarde te wen by mensekinders

    is regtig nie al wat tel nie.

  • Gefaal, opstaan en weer probeer:

    Gedoriewaar…

    ek’s alweer  geweeg en te lig bevind.

    My hart is seer en my gemoed bedroefd.

    Ek het dan so hard probeer om my bes te doen.

    Kliphard warrel fluisterstemme deur my kop.

    Fluister-sê…

    • ek’s nie goed genoeg nie.
    • ek’s bestem om altyd net middelmatig te wees.
    • om in die middel (massa) te verdwyn.

    Wyl my oge droog bly,

    val stil trane in my gemoed.

    My kop en hart baklei met mekaar,

    hul voer ‘n oorlog met my…

    rakel my talle suksesse op,

    probeer my herinner dat ek veel het om op te roem,

    maar, helaas, dit help nóú net mooi niks.

    Die stemme fluister net al hoe harder

    wyl my hart troosteloos in hartseer bly voortklop.

    Die stemme gil dat die kool nie altyd

    die sous werd is nie.

    Probeer is nie altyd die beste geweer nie.

    Vraend wonder ek of dit die moeite werd

    Is om weer te probeer.

    So by my kool, dis swaar sowaar

    om op te staan en weer te probeer.

    Om te glo aan kyk noord en boggom voort

    is soms moeilik om te volg,

    as jy voel soos politoer op die vloer.

    Maar, nou, ja, kom ons lig dié kop op

    en ons probeer maar weer ‘n keer.

    Wie weet dalk kry ons dit reg dié keer

    en wie weet, dalk hoor ons op ‘n dag,

    dis nou wel gedaan

    en jy het goed gedoen.