Ware vriende of nie?

Sjoe, dis darem snaaks hoe vriendskap getoets kan word aan sekere dinge. Menende of dit regtig ‘n opregte vriendin is wat ten alle tye by jou sal staan. Maak nie saak hoe groot of hoe klein jou berg is nie, sal hulle aan jou sy bly en jou bly ondersteun. Baie goeie hartsvriendinne sal aan jou kant bly, glo ek.

Ek kry Covid by ‘n jarelange vriendin en sy stuur elke dag vir my Goeie more boodskappe, sonder om te vra hoe ek voel of om jammer te sê dat sy my onwetend aangesteek het. Ek vra haar toe ek gesonder voel, hoe sy voel en of sy eenhonderd persent gesond is. Net om te sê was maar net haar nasale drip wat haar dokter toe laat gaan het en haar positief vir Covid laat toets het. Daarmee maak sy my ligter simptome wat my nog pla af as regte Covid simptome teenoor haar nasale drip. Meantime was al haar kinders ook siek aan Covid. Nou wonder ek, baklei sy teen die feit dat sy Covid positief getoets het en of het sy maar dieselfde reaksie as ek ervaar van sommige mense. Of is sy skaam? Dis net na ek by haar was, dat ek siek geword het. Sy het my immers laat weet sy is Covid positief getoets, ‘n dag na ons gesellige saamkuier.

Ek het nie die feit dat ek Covid het aan die groot klok loop hang nie, want daar kleef mos maar ‘n stigma daaraan. So al asof mens die pes of een of ander onnoembare vuilsiekte het. Mense kyk jou skeef aan en wil tog nie na aan jou kom nie, netnou steek jy hulle ook aan. Wat ek wel gedoen het was om die paar mense wat ek besoek het, voordat ek siek geword het en positief getoets het en nog nie geweet het dat my vriendin by wie ek heerlik koffie gedrink het, kan dalk Covid hê nie, te laat weet dat ek positief getoets het vir Covid. Ek het ook veilig gevoel uit my gesiglose anonimiteit om dit teenoor julle te noem. Julle kan tog nie wegkoes vir kieme nie, ons is lugruimafstand veilig van mekaar af.

Nodeloos om te sê, het die twee vriendinne wat ek moes inlig oor my status tot op hede nog nie enigsins met my kontak gemaak om te vra hoe ek voel en hoe dit met gaan nie. Hulle swyg soos die graf. Die een (onlangs ontmoet en nog redelik nuwe vriendin) was hoogs ontsteld en het skoon kwaad geklink oor ek by haar gaan kuier het, so al asof sy wou weet hoe ek dit durf waag het om haar bloot te stel aan Covid.

My mens, ek het mos nie geweet koffievriendin dans dalk op AVBOB se stoep nie en dus ek ook dalk. As ek geweet het, sou ek mos dadelik in my bed gaan inkruip het, met die duvet oor my kop getrek en sewe soorte vitamienes begin drink het. Ek sou ‘n geel lint om my kamer gespan het om enige betreders teen die gevaarsone te waarsku. Ek sou beslis nie na aan iemand gekom het om my kiemasem vol gifgoggas oor hulle uit te blaas nie.

Ja, dit maak seer as ‘n vriendskap so geweeg en te lig bevind word. So dit wys duidelik dat dit nie die toets van die tyd kan deurstaan nie. Nodeloos om te sê voel ek my ook daartoe genope om nie verder van my kant af enigsins moeite te doen om die vriendskapsdrade op te tel vir die vriendin wat my verwytend aangespreek het oor sy dalk nou ook kan Covid opdoen nie. Vergewe 7×70 sal ek wel, maar ek kan nie ‘n spoedwal vriendskap hê waar ek vir iets buite my beheer geblok en berispe gaan word nie.

Dan volg ek Leandi du Randt se raad in haar boek, Block en bless hulle. Geseënd is jy liewe kennisvriendin, gaan jou goed, maar ek sal nie weer vrymoedig by jou kan kuier nie, wie weet, dalk dra ek weer kieme in jou gemaksone in.

Vriendin 3 wat dodelik siek aan Covid was en nog aan nagevolge ly en wie se man weens Covid in ICU gelê het, in die beginstadium van die pandemie, vra per whatsapp, hoekom ek by die dokter was. Ek lig haar in ek het Covid, kry net ‘n omgee smiley en dis al. Niks verder, niks jy sal gesond word en sterkte nie. Nou, ja, I rest my case, your honour. As ek sterk en op die been is, sal ek die vriendskap mee aangaan en haar nie kwalik neem nie. Jammergat ekke sou net meer liefde en trooswoordjies wou hê. Soos wat ek haar vertroos het tydens haar man se ICU dae. Covid het duidelik sy skeidingsgrense en vlak van omgee tussen mense kom trek en toets verhoudings so duidelik soos daglig.

Dalk is die les ook daarin dat mense nie so vreeslik op mense moet staatmaak nie, want hulle , ONS, is almal feilbaar. Daar is net een op wie mens ten alle tye kan staatmaak en dis die Here! Hy is ten alle tye by jou. Hy is bo jou, onder jou, langs jou, teen jou, voor jou , agter jou en in jou. Hou vas aan hom en Sy Bybelse Woord.

8 responses to “Ware vriende of nie?”

    • Dankie dat jy omgee. Ja, dis nou baie ligte snuif nog, so my tonnellig al baie helderder. Ja, ek is ook baie keer ‘n swak vriendin wat my vriendinne ook nie altyd so bystaan soos ek moet nie. So, die skrywe wys na my kant toe ook. Soos wat hul sê, wys vinger, maar drie wys terug na jou toe.

      Liked by 1 person

  1. Jy skryf diep waarheid. Ons kan net op Hom staatmaak om ALTYD reg op te tree. Ek bevind my in soortgelyke situasie en toe ek daaroor ponder, wonder ek hoeveel maal ek iemand so gefaal het. Dalk meer kere as wat hulle my gefaal het. Ek wil so graag die perfekte vriendin wees, maar moet erken ek is nie. Al wil ek wees. Ek besef mense is besig, het ander prioriteite as ek. Ek hoop jy word gou beter en besef hoe spesiaal jy eintlik is

    Liked by 3 people

  2. Hoop jy is gou gesond en aan die gang. Ek voel jou “pyn” en verstaan, mense is snaakse goed. Ek wonder of dit n ouer word ding is want ek voel ook nogal soos jy…. block en bless

    Liked by 1 person

  3. Dis krapperig eina as mens agterkom dat jy so n effense koue skouer by vriende kry. Maar ja….op die stadium is daar nie meer een huisgesin wat dit vry gespring het nie. Jy mag jou wonde lek. Gelukkig beweeg ons in die tydperk in dat covid so algemeen gaan word soos verkoue. Met geen stigma meer nie.😋

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: