Liewe ma

Terugvoer vir almal. Ma is nog in die hospitaal en hulle hou haar nou maar net gemaklik. Nuus bly maar dieselfde. Sy praat en eet darem al, maar min en is deurmekaar. Ons weet nog nie wanneer sy ontslaan gaan word nie en wat die pad vorentoe is nie. Ons enigste bron van inligting is maar die dokters, want die verpleegsters trek net skouers op. Eish, dis frusterend. Emosioneel is mens maar op ‘n laagtepunt.

Ma

Terwyl ek so wakker lê, speel my gedagtenis terug aan ons twee se pad tot sover (ons geskiedenis).  Toe ek jou leer ken het, was jy in jou 50’s. Hierdie pragtige swartkopvrou, gedurig aan die bak en brou.  Jy kon elke denkbare groente en vrugte verwerk tot die heerlikste konfyt, blatjang, ensovoorts.  Jy het vele pryse met jou handewerk gewen. As jy stilgesit het, was jou hande ook besig met breiwerk of iets. Jou hande is nou nog in die ouetehuis besig. Jou huis en hart was vir almal oop en jy het nooit iets slegs van iemand te sê nie.  Jou hart en lewe spreek van die Bybelse vrugte van die gees en jou opregte Christenskap.  Jy en koningin Elizabeth is vir my sulke statige en formidabele vroue, altyd netjies aangetrek en haartjies netjies gekap en so mooi versorg.

As skoolkind, was ek al die tannies in die straat se dogter en moes julle menige maal help met iets.  Ek koester die neute en amandel opkap sessies as ma aan die koekbak was en ook die vele ander kombuiswerkies en leersessies.  Jy het my selfs gevra om jou jongste seun na sy beste vriend se troue te vergesel.  Daar het my lewenspad saam met jou seun begin.

Ek het soveel by jou en skoonpa geleer. Herinneringe en lewenslesse wat my lewenslank sal bybly.  Baie, baie jare terug het ek aan jou genoem dat ek sleg afsteek by my talentvolle skoonsusters wie se hande vir niks onder die son verkeerd staan nie.  Jy het my daarop gewys dat ek puik administratiewe vermoëns het en het my geleer dat elke mens iets goeds en talentvol in hom of haar het.  Dit was ‘n waardevolle les wat ek vandag nog saam met my dra, dat elke mens waardevol is. Dankie vir soveel diep gesprekke waarin ek baie dinge met jou kon deel en vir ma se waardevolle insette en raad tydens sulke gesprekke.

My resepteboek bevat heelwat van ma se heerlike disse en in my huis is heelwat goed wat jy vir my gegee het, kosbare onvervangbare skate. Dis wêreldsgoed en sal nooit kan opweeg teen ma se fisiese teenwoordigheid in ons lewens nie.

Ek was en is nie altyd die model skoondogter nie. Ek is mos maar net ‘n mens wat vol foute is, maar jy en liewe skoonpa was en is nog al die jare onvoorwaardelik lief vir my.   Julle woning was my eintlike ouerhuis en ek het baie kere gewens dat julle regtig my biologiese ouers was.

Dankie vir julle liefde. Ek eer en dank jou liewe ma en ek hoop die Here spaar jou nog baie lank, om nog baie jare saam met ons te kan wees. Dit is anders met jou in die ouetehuis, maar jy is nog met ons en ons kan met jou gesels oor die foon of vir jou gaan kuier. Jy mis geensins die weeklikse Huisgenoot nie en sal ons gou bel as ons nie vinnig genoeg uitkom daarmee nie. Met jou vlymskerp geheue word elkeen van ons elke jaar getrou op ons verjaarsdae gebel.

Word gou gesond en mag jy nie baie skade oorhou nie. Lief jou.

6 responses to “Liewe ma”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: